Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 5:7-19 Bybel vir Almal (ABA)

7. Niemand sal lus wees om te sterf om ’n ander mens te red nie, ook nie as daardie ander mens reg lewe nie. Ja, miskien sal daar iemand wees wat dapper is en lus is om te sterf om ’n goeie mens te red.

8. Maar Christus het gesterf om ons te red toe ons sondaars was. Daarom weet ons dat God baie lief is vir ons.

9. Christus het gesterf, en daarom het God ons vrygespreek. En daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons ook sal red sodat God ons nie sal straf nie.

10. Ons was voorheen God se vyande, maar God se Seun het gesterf sodat alles reg kan wees tussen ons en God. God het vir Christus weer laat lewe. Nou is alles reg tussen God en ons, daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons sal red.

11. Ons weet dat Christus ons sal red en ons is ook baie trots, want ons Here Jesus Christus het gesterf sodat alles reg kan wees tussen God en ons en sodat ons aan God kan behoort.

12. Daarom, een mens, Adam, het eerste sonde gedoen, en hy moes sterf. Van toe af doen al die mense sonde, en hulle moet almal sterf.

13. Die mense het sonde gedoen voordat God vir hulle sy wette gegee het, maar hulle was nie skuldig nie, want hulle het nog nie die wette gehad nie.

14. Hulle was nie skuldig nie, maar hulle het gesterf, van die tyd toe Adam gelewe het tot die tyd toe Moses die wette van God vir die Israeliete gegee het. Die dood het oor al die mense regeer. Die mense wat nie dieselfde sondes gedoen het wat Adam gedoen het nie, het ook gesterf. Ja, Adam het sonde gedoen en gesterf, en dit het gewys wat Christus moes kom doen, Christus, die Een wat later gekom het.

15. God se genade is anders as die sonde en dit is sterker as die sonde. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom het baie mense gesterf. Maar God se genade is baie beter. Ja, God is baie goed, Hy het Een Mens, Jesus Christus, gegee, en dit is hoe God genadig was vir baie meer mense.

16. God se genade is nie soos Adam se sonde nie. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en God het gesê Adam het verkeerd gedoen, daarom sal God hom straf. Maar God se genade is anders. Die mense het baie sondes gedoen, maar toe het God se genade gekom, God was goed vir die mense en Hy het hulle vrygespreek.

17. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en van toe af het die mense gesterf. Die dood het oor hulle regeer. Maar God se genade is baie beter, Hy is baie goed vir mense en Hy spreek hulle vry. Hulle sal vir altyd lewe en regeer, want Een Mens, Jesus Christus, het hulle gered.

18. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom moes God al die mense straf. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gedoen het wat God wil hê, en daarom spreek God al die mense vry en laat Hy hulle lewe.

19. Een mens, Adam, was ongehoorsaam, en toe het baie mense sondaars geword. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gehoorsaam was, en daarom sal God baie mense vryspreek.

Lees volledige hoofstuk Romeine 5