Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 14:7-20 Bybel vir Almal (ABA)

7. Ons lewe nie om onsself te dien nie en ons sterf nie om onsself te dien nie.

8. Wanneer ons lewe, dan lewe ons om die Here te dien. En wanneer ons sterf, dan sterf ons om die Here te dien. Ja, wanneer ons lewe, dan behoort ons aan die Here, en wanneer ons sterf, dan behoort ons aan die Here.

9. Christus het gesterf, en Hy het weer begin lewe sodat Hy kan regeer oor almal, almal wat dood is en almal wat lewe.

10. Jy moenie sê die ander gelowiges doen verkeerd nie. En jy moenie dink die ander gelowiges is onbelangrik nie. Jy moet onthou: God sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan.

11. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die Here sê:Ek het dit vir Myself belowe,Ek het gesê:Elke knie sal voor My buig,elke mens sal sê hy weetEk is God.

12. Dit beteken: Elkeen van ons sal self vir God moet antwoord oor alles wat ons gedoen het.

13. Die gelowiges wat ’n sterk geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat ’n swak geloof het, doen verkeerd. En die gelowiges wat ’n swak geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat ’n sterk geloof het, doen verkeerd. Ons moet besluit om nie dinge te doen wat ander gelowiges sonde laat doen of wat hulle laat ophou glo nie.

14. Ek behoort aan die Here Jesus en daarom weet ek dat niks self onrein is nie, maar wanneer mense dink iets is onrein, dan is dit vir húlle onrein.

15. Wanneer jy iets eet, en ander gelowiges hou nie daarvan dat jy dit eet nie, en dit maak hulle seer, dan lewe jy nie soos iemand wat lief is vir die ander gelowiges nie. Jy moenie iets eet as jy weet dit sal ander gelowiges vir altyd laat sterf nie, want Christus het gesterf sodat daardie gelowiges kan lewe.

16. God is baie goed vir julle, julle moenie dat die ander mense sleg praat oor die goeie dinge wat julle gekry het nie.

17. Want die dinge wat ons eet en drink, is nie belangrik daar waar God, die Koning, regeer nie. Dit is belangrik dat God ons vryspreek en dat Hy vir ons vrede gee en vir ons help om regtig bly te wees, ons almal wat die Heilige Gees het.

18. As ons so vir Christus dien, dan is God tevrede met ons en dan sal ander mense ons respekteer.

19. Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is, dinge wat ander gelowiges help om hulle geloof sterk te maak.

20. Die dinge wat julle eet en drink moenie vir julle so belangrik wees dat dit die goeie dinge verwoes wat God wil doen nie. Julle moet onthou: Al die kos is rein, maar wanneer julle iets eet, en dit laat ’n ander gelowige sonde doen, dan doen julle verkeerd om dit te eet.

Lees volledige hoofstuk Romeine 14