Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Efese skryf: Die Een wat die sewe sterre in sy regter-hand vashou en wat tussen die sewe goue lampe loop, sê:

2. Ek weet alles wat jy doen. Ek weet jy werk hard vir My en jy is geduldig wanneer mense slegte dinge aan jou doen. Ek weet jy hou niks van slegte mense nie. Daar is mense by jou wat sê hulle is apostels, maar hulle is nie apostels nie. Jy het hulle getoets en uitgevind dat hulle vals is.

3. Jy hou aan om die Here te dien, jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy word nie moeg om swaar te kry nie.

4. Maar Ek is kwaad vir jou. In die begin was jy baie lief vir My, maar nou is jy nie meer baie lief vir My nie.

5. Ja, jy moet onthou hoe baie jy verander het, en dan moet jy weer lewe soos Ek wil hê jy moet lewe. Jy moet weer die dinge doen wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek kom en Ek sal jou lamp wegneem van sy plek. Ja, jy moet weer lewe soos Ek wil hê.

6. Maar jy doen een ding wat reg is. Jy haat die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek haat dit ook.

7. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou die vrugte gee van die boom wat lewe gee, die boom wat in God se tuin is.”

8. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Smirna skryf:Die Een wat die Eerste en die Laaste is, Hy wat dood was maar wat weer lewe, Hy sê:

9. Ek weet jy kry swaar en jy is arm, jy het min geld. Maar Ek sê jy is ryk, want jy behoort aan My. Ek weet die Jode praat sleg van jou, maar hulle is nie regtig Jode nie, hulle kom bymekaar in ’n sinagoge, maar dit is die sinagoge van die Satan.

10. Jy sal swaarkry, maar jy moenie bang wees nie. Die duiwel sal party van julle in die tronk laat gooi. Dan sal almal sien of julle kan aanhou glo. Ja, julle sal tien dae lank swaarkry, maar jy moet aanhou glo, ook as die mense jou wil doodmaak. Dan sal Ek jou weer laat lewe, dit sal vir jou wees soos ’n lourier-krans op jou kop.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2