Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 17:1-7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Een van die sewe engele het na my toe gekom. Dit was een van die sewe engele wat die straf van God in die sewe bakke gebring het. Die engel het vir my gesê: “Jy moet saam met my kom! Ek sal vir jou wys hoe God die groot prostituut sal oordeel, die prostituut wat sit by die plek waar daar baie water is.

2. Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met haar. Ja, die mense van die aarde het onsedelik gelewe met haar. Dit was baie lekker vir hulle, sy was soos wyn wat mense dronk maak.”

3. Die Gees het in my gekom en die engel het my na die woestyn geneem. En ek het ’n vrou gesien wat sit op ’n dier wat baie rooi was. Daar was name geskryf op die dier, name wat vir God gelaster het. Die dier het sewe koppe en tien horings gehad.

4. Die vrou het klere gehad wat pers en baie rooi was. Sy het baie goud en juwele en pêrels gedra. In haar hand was ’n goue beker. Die goue beker was vol slegte en onrein dinge, dit was vol onsedelike dinge.

5. Op haar voorkop was daar ’n naam geskryf wat niemand verstaan het nie. Daar was geskryf: “Groot Babilon, die ma van al die prostitute, die ma van al die slegte dinge wat op die aarde is.”

6. Ek het gesien dat die vrou dronk is, want sy het die bloed gedrink van die mense wat aan God behoort, die mense wat gesterf het omdat hulle in Jesus glo. Ek was baie verbaas toe ek die vrou sien.

7. Maar die engel het vir my gesê: “Hoekom is jy verbaas? Ek sal vir jou vertel wat beteken die vrou en die dier wat haar dra, die dier wat sewe koppe en tien horings het.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 17