Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:12-21 Bybel vir Almal (ABA)

12. Jesus het gehoor wat die Fariseërs sê, en Hy het vir hulle gesê: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe.

13. Julle moet leer wat beteken hierdie woorde:“Die Here sê: Ek wil nie offers hê nie,maar Ek wil hê julle moetgoed wees vir mense.“Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie. Ek het gekom om sondaars te roep.”

14. Johannes se dissipels het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Ons vas en die Fariseërs vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?”

15. Jesus sê toe vir hulle: “Die vriende van die bruidegom kan nie rou wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Maar daar sal ’n tyd kom wanneer die bruidegom weg sal wees, dan sal hulle vas.

16. Niemand maak ou klere reg met ’n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word.

17. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, ’n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi, dan sal hy nie die sakke of die wyn verloor nie.”

18. Jesus was besig om met hulle te praat, toe kom daar een van die leiers van daardie stad na Hom toe. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “My dogter het nou gesterf. Maar as U kom en u hand op haar sit, dan sal sy weer lewe.”

19. Jesus het opgestaan en Hy het saam met die man gegaan, en sy dissipels het saamgegaan.

20. Terwyl hulle loop, het daar ’n vrou van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy was siek, sy het twaalf jaar lank aangehou bloei.

21. Sy het gedink: As ek net aan Jesus se klere kan raak, dan sal ek gesond word.

Lees volledige hoofstuk Matteus 9