Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:10-25 Bybel vir Almal (ABA)

10. En hulle het dit betaal vir die grond van die pottebakker, want dit was wat die Here vir my gesê het.”

11. Jesus het voor die goewerneur Pilatus gestaan. Die goewerneur het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”Jesus het vir hom gesê: “Jy sê self Ek is.”

12. Die priesterleiers en die familieleiers het vir Jesus beskuldig, maar Hy het niks geantwoord nie.

13. Pilatus vra toe weer vir Jesus: “Hoor jy al hierdie dinge wat hulle teen jou sê?”

14. Maar Jesus het nie een van die goewerneur se vrae geantwoord nie. En die goewerneur was baie verbaas.

15. Elke jaar wanneer die Jode Paasfees vier, het die goewerneur een gevangene uit die tronk laat uitkom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees.

16. In daardie tyd was daar ’n baie slegte gevangene in die tronk. Sy naam was Jesus Barabbas.

17. Daar was ’n groot klomp mense daar bymekaar. Pilatus het vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom: Jesus Barabbas of Jesus vir wie die mense Christus noem?”

18. Die goewerneur het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was.

19. Die goewerneur het op die regterstoel gaan sit. Toe het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur en gesê: “Jy moet niks aan daardie onskuldige man doen nie, want ek het in die nag baie swaar gekry, ek het van hom gedroom.”

20. Die priesterleiers en die familieleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat uitkom, en vir Jesus moet laat doodmaak.

21. Die goewerneur vra toe weer vir die mense: “Wie van die twee mense wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom?”En hulle het geantwoord: “Barabbas!”

22. Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met Jesus vir wie julle Christus noem?”Die mense het almal gesê: “Kruisig hom!”

23. Pilatus het gevra: “Wat het hy verkeerd gedoen?”Maar die mense het aangehou om baie hard te skree: “Kruisig hom!”

24. Pilatus sien toe dat alles wat hy doen, niks help nie. Die mense het nog meer kwaad geword en hulle het geskree en geraas. Pilatus neem toe water en hy was sy hande sodat al die mense dit kan sien, en hy sê: “Ek is onskuldig as hierdie man moet sterf. Dit is júlle wat besluit hy moet sterf.”

25. En al die mense het gesê: “Ja, dit is ons en ons nageslag wat skuldig sal wees as hy sterf.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 27