Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 2:10-19 Bybel vir Almal (ABA)

10. Toe die sterrekykers sien die ster is daar, was hulle baie bly.

11. Hulle het in die huis ingegaan, en daar het hulle die Kindjie by Maria, sy ma, gesien. Toe het hulle gebuig en voor Hom gekniel en Hom aanbid. Daarna het die sterrekykers hulle sakke oopgemaak en hulle het presente uitgehaal en vir die Kindjie gegee. Dit was goud, wierook en mirre.

12. God het die sterrekykers in ’n droom gewaarsku en gesê hulle moenie weer na Herodes toe gaan nie. Daarom het die sterrekykers op ’n ander pad teruggegaan na hulle land.

13. Nadat die sterrekykers weggegaan het, het ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma saam en vlug na Egipte. Bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want koning Herodes wil die Kindjie doodmaak.”

14. Josef het toe opgestaan. Hy het die Kindjie en sy ma in die nag saam met hom geneem en hulle het na Egipte gegaan.

15. Hulle het in Egipte gebly totdat Herodes gesterf het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het geskryf: “Die Here het gesê: Ek het my Seun uit Egipte geroep.”

16. Koning Herodes het uitgevind dat die sterrekykers hom gekul het, hulle het nie gedoen wat hy vir hulle gesê het nie. Hy was toe baie kwaad. Hy het soldate gestuur om al die seuntjies in Betlehem dood te maak, al die seuntjies wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was. Hulle het ook die seuntjies doodgemaak wat naby Betlehem gewoon het. Hy het die seuntjies laat doodmaak wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was, omdat die sterrekykers vir hom gesê het wanneer hulle die ster gesien opkom het.

17. So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het:

18. “Hulle hoor hoe die mense huil,hoe hartseer hulle isin die stad Rama.Ragel huil oor haar kinders.Die mense probeer haar troos,maar sy bly hartseer,want haar kinders is dood.”

19. Later, toe koning Herodes gesterf het, was Josef nog in Egipte. ’n Engel van die Here het in ’n droom aan Josef verskyn. Die engel het vir Josef gesê:

Lees volledige hoofstuk Matteus 2