Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18:15-30 Bybel vir Almal (ABA)

15. “As een van die ander gelowiges sonde gedoen het teen jou, dan moet jy eers met hom raas waar julle twee alleen is. As hy luister na jou, dan is hierdie gelowige weer saam met jou.

16. Maar as hy nie wil luister na jou nie, dan moet jy nog een of twee gelowiges saam met jou neem. Die Ou Testament sê twee of drie getuies moet sê wat gebeur het.

17. Maar as hy ook nie na hulle wil luister nie, dan moet jy dit vir die gemeente sê. En as hy ook nie na die gemeente wil luister nie, dan moet hy vir julle wees soos ’n heiden en ’n tollenaar.

18. Ek sê vir julle, en dit is seker: Almal wat nie by julle die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.

19. Ek sê vir julle nog iets, en dit is seker: Wanneer twee van julle hier op aarde bid en saamstem oor enige iets wat julle vir God vra, dan sal my Vader wat in die hemel is, dit vir hulle gee.

20. Want waar twee of drie van julle bymekaar is om My te aanbid, daar is Ek by hulle.”

21. Toe het Petrus na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Here, hoeveel maal moet ek ’n ander gelowige vergewe wanneer hy sonde doen teen my? Moet ek hom baie maal vergewe, tot sewe maal?”

22. Jesus sê toe vir Petrus: “Ek sê vir jou: Jy moet hom nie net sewe maal vergewe nie, maar sewentig maal sewe maal.

23. Ek sê dit, want God wat in die hemel is, is Koning. Dit is soos wanneer ’n koning besluit om te vra wat sy amptenare met sy geld gedoen het.

24. En toe hy begin vra wat hulle gedoen het, het hulle een amptenaar na hom toe gebring wat vir die koning 10 000 talente geskuld het.

25. Die amptenaar kon nie sy skuld betaal nie, en daarom het die koning gesê hulle moet die amptenaar verkoop, en ook sy vrou en sy kinders en alles wat hy gehad het. Hulle moes die geld dan gebruik om sy skuld te betaal.

26. “Die amptenaar het toe gekniel voor die koning en hy het hom gesoebat en gesê: ‘Jy moet asseblief geduldig wees met my. Ek sal alles terugbetaal wat ek vir jou skuld.’

27. Die koning was toe baie jammer vir die amptenaar. Hy het hom laat gaan en hy het gesê dit is nie nodig dat die amptenaar die skuld betaal nie.

28. Toe daardie amptenaar uitgaan, kry hy een van die ander amptenare wat vir hom geld geskuld het, hy het net 100 silwer geldstukke geskuld. Hy gryp hom toe aan die keel en begin om hom te wurg en hy sê: ‘Jy moet betaal wat jy vir my skuld!’

29. Die ander amptenaar val toe op sy knieë voor hom en soebat en sê: ‘Jy moet asseblief geduldig wees met my, ek sal alles terugbetaal wat ek vir jou skuld.’

30. Maar die eerste amptenaar wou nie. Hy het gegaan en hy het die ander amptenaar in die tronk laat gooi. Hy moes daar bly totdat hy die skuld betaal het.

Lees volledige hoofstuk Matteus 18