Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:24-35 Bybel vir Almal (ABA)

24. Toe sê Jesus: “God het My gestuur net na die mense van Israel. Hulle is soos verlore skape.”

25. Maar die vrou het na Jesus toe gekom en sy het voor Hom gekniel en gesê: “Here, help my asseblief!”

26. Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.”

27. Die vrou sê toe vir Jesus: “Dit is waar, Here, maar ook die hondjies eet van die krummels wat afval van die tafels van hulle eienaars.”

28. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jou geloof is groot. Wat jy wil hê, sal gebeur.”En God het die vrou se dogter op daardie oomblik gesond gemaak.

29. Jesus het weggegaan en Hy het langs die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit.

30. ’n Klomp mense het na Hom toe gekom. Hulle het mense saamgebring wat verlam was, of blind, of kreupel, of doof en stom, en hulle het ook baie ander siek mense gebring. Hulle het die siek mense voor Jesus se voete neergesit en Hy het hulle gesond gemaak.

31. Die mense was verbaas toe hulle sien dat die mense wat doof en stom was, kan praat, dat die kreupel mense gesond is en dat die blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geprys.

32. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur huis toe nie, want hulle sal flou word voordat hulle by die huis is.”

33. Die dissipels vra toe vir Jesus: “Waar sal ons so baie brood kry dat ons vir hierdie klomp mense genoeg kan gee om te eet? Ons is ver van ’n stad, hier woon niemand nie.”

34. Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?”En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode en ’n paar klein vissies.”

35. Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet.

Lees volledige hoofstuk Matteus 15