Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 11:16-30 Bybel vir Almal (ABA)

16. “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe? Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit.

17. Party kinders sê:“ ‘Ons het vir julle trou-musiekop die fluit gespeel,maar julle wou nie dans nie.’“En die ander kinders sê:“ ‘Ons het vir julle’n begrafnis-lied gesing,maar julle wou nie huil nie.’

18. “So doen die mense met Johannes en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie feesgevier nie. Toe sê die mense: ‘Daar is ’n duiwel in hom.’

19. Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê die mense: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronklap. Hy is ’n vriend van tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’ Die dinge wat Ek en Johannes doen, wys dat ons van God kom. Mense wat in ons glo, weet regtig wat die wysheid van God is.”

20. Jesus het die meeste van sy wonderwerke gedoen in ’n paar stede. Maar die mense in hierdie stede het nie verander nie en hulle het nie begin lewe soos God wil hê mense moet lewe nie. Jesus het toe kwaai begin praat met hulle en gesê:

21. “Dit sal baie sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal baie sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle wys dat hulle verander het en wil begin lewe soos God wil hê.

22. Maar Ek sê vir julle: Op die dag wanneer God sal oordeel, sal Hy die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle.

23. En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel. Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke in Sodom gedoen het, dan sou daardie mense verander het en begin lewe het soos God wil hê. En dan was Sodom vandag nog daar.

24. Maar Ek sê vir julle: Op die dag wanneer God sal oordeel, sal Hy die mense van Sodom minder straf as vir julle.”

25. In daardie tyd het Jesus gebid en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie.

26. Ja, Vader, U het dit gedoen omdat U dit graag wou doen.”

27. Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig vir My, die Seun van God nie, net die Vader ken My. En niemand ken regtig die Vader nie, net Ek, die Seun van God, ken die Vader. En watter mense ken die Vader? Net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader.

28. “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaarkry omdat julle wil doen wat die Wette van Moses sê. Ek sal julle help sodat julle kan rus.

29. Julle moet gehoorsaam wees en luister na wat Ek vir julle leer, want Ek het ’n sagte hart en Ek is nederig. Julle sal vir altyd by My kan rus.

30. Die wette wat Ek vir julle gee, is nie moeilik nie, en as julle My volg, sal julle nie swaarkry nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 11