Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 19:18-34 Bybel vir Almal (ABA)

18. Toe kom die tweede slaaf en hy sê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog vyf geldstukke daarby.’

19. Die koning het ook vir hierdie slaaf gesê: ‘Ek gee vir jou vyf stede, jy moet oor hulle regeer.’

20. “’n Derde slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die geldstuk wat jy gegee het. Ek het dit mooi toegedraai in ’n lap en ek het dit gebêre,

21. want ek was bang vir jou omdat jy kwaai is. Jy vat van mense goed wat jy nie gegee het nie, en jy sny koring af wat jy nie gesaai het nie.’

22. Toe sê die koning vir hom: ‘Jy is ’n slegte slaaf, jy het nou self gesê hoekom ek jou moet straf. Jy het geweet ek is kwaai, ek vat van mense goed wat ek nie gegee het nie en ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie.

23. Hoekom het jy nie my geld in die bank gesit nie? Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’

24. Toe sê die koning vir sy amptenare: ‘Vat die geldstuk van hom weg en gee dit vir die slaaf wat tien geldstukke het.’

25. Hulle het vir hom gesê: ‘Meneer, hy het klaar tien geldstukke.’

26. Maar die koning het gesê: ‘Ek sê vir julle, ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee, en ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het.

27. En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle en maak hulle dood hier voor my.’ ”

28. Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, het Hy verder gegaan na Jerusalem.

29. Toe Hy naby die dorpies Betfage en Betanië op die Olyf-berg kom, het Jesus twee van sy dissipels gestuur

30. en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit ’n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hier.

31. En wanneer iemand vir julle vra hoekom julle die donkie losmaak, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik.”

32. Daardie twee dissipels het toe gegaan en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het.

33. Toe hulle die donkie losmaak, het sy eienaars vir die dissipels gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?”

34. Die dissipels het gesê: “Die Here wil hom gebruik.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 19