Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 14:8-19 Bybel vir Almal (ABA)

8. “As iemand jou uitnooi na ’n ete by ’n troue, dan moet jy nie op een van die belangrike plekke gaan sit nie. Miskien het die bruidegom iemand genooi wat belangriker is as jy.

9. Dan sal die bruidegom kom en vir jou sê: ‘Jy moet asseblief opstaan en jy moet jou plek vir daardie persoon gee.’ Jy sal baie skaam word wanneer jy moet opstaan en op ’n plek moet gaan sit wat ver weg is van die bruidegom.

10. Wanneer iemand jou uitnooi, dan moet jy gaan sit op die plek wat die minste belangrik is. Dan kan die bruidegom vir jou sê: ‘My vriend, kom sit nader by my.’ En dan sal al die mense sien hoe belangrik jy is.

11. God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en Hy sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”

12. Jesus het ook vir die man wat Hom uitgenooi het, gesê: “Wanneer jy mense uitnooi na ’n middag-ete of ’n aand-ete, dan moet jy nie jou vriende uitnooi nie, ook nie jou broers of jou familie of ryk bure nie, want hulle sal jou miskien ook weer uitnooi om by hulle te kom eet, en so betaal hulle jou terug.

13. Maar wanneer jy mense na ’n ete uitnooi, dan moet jy die arm mense uitnooi, en die kreupeles, die verlamdes en die blindes.

14. Dan sal die Here jou seën, want hierdie mense het niks, hulle kan jou nie terugbetaal nie. Maar die Hére sal jou eendag terugbetaal wanneer al die mense wat reg gedoen het, weer begin lewe.”

15. Een van die mense wat saam met Jesus geëet het, het gehoor wat Jesus sê oor die mense wat weer sal lewe. Hy sê toe vir Jesus: “Iemand wat eendag by die tafel sal sit waar God Koning is, sal ’n gelukkige mens wees.”

16. Maar Jesus het vir hom gesê: “Daar was ’n man wat baie mense genooi het na ’n ete.

17. Toe dit tyd word om te begin eet, stuur hy sy slaaf om vir almal wat hy genooi het, te sê: ‘Julle moet nou kom, alles is klaar, ons kan begin eet.’

18. Maar die mense wat uitgenooi was, het almal gesê hulle is jammer, hulle kan nie kom nie. Een man het vir die slaaf gesê: ‘Ek het ’n stuk grond gekoop en ek moet daarna gaan kyk. Ek vra vir jou, verskoon my asseblief.’

19. ’n Ander man het gesê: ‘Ek het vyf paar beeste gekoop en ek gaan nou kyk hoe goed hulle kan werk. Ek vra vir jou, verskoon my asseblief.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 14