hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 14 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus maak ’n man gesond van watersiekte

1. Jesus het by een van die leiers van die Fariseërs gaan eet. Dit was op die Sabbatdag. Die Fariseërs het goed gekyk wat Jesus alles doen.

2. Jesus het ’n man gesien wat watersiekte gehad het en opgeswel was.

3. Jesus vra toe vir die skrifgeleerdes en Fariseërs: “Mag ’n mens op die Sabbatdag iemand gesond maak of nie?”

4. Maar hulle het stilgebly. Toe raak Jesus aan die man, Hy maak hom gesond en stuur hom weg.

5. Jesus sê toe vir die Fariseërs en skrifgeleerdes: “As een van julle se seun of sy bees in ’n gat val, wat sal jy doen? Jy sal hom dadelik uithaal, ook op die Sabbatdag.”

6. En hulle kon nie vir Jesus antwoord nie.

Gelykenisse oor etes

7. Jesus het gesien die mense wil graag die belangrikste sitplekke by die tafel hê, die plekke naby die eienaar van die huis. Toe vertel Jesus vir die mense by die ete ’n gelykenis. Hy het gesê:

8. “As iemand jou uitnooi na ’n ete by ’n troue, dan moet jy nie op een van die belangrike plekke gaan sit nie. Miskien het die bruidegom iemand genooi wat belangriker is as jy.

9. Dan sal die bruidegom kom en vir jou sê: ‘Jy moet asseblief opstaan en jy moet jou plek vir daardie persoon gee.’ Jy sal baie skaam word wanneer jy moet opstaan en op ’n plek moet gaan sit wat ver weg is van die bruidegom.

10. Wanneer iemand jou uitnooi, dan moet jy gaan sit op die plek wat die minste belangrik is. Dan kan die bruidegom vir jou sê: ‘My vriend, kom sit nader by my.’ En dan sal al die mense sien hoe belangrik jy is.

11. God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en Hy sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”

12. Jesus het ook vir die man wat Hom uitgenooi het, gesê: “Wanneer jy mense uitnooi na ’n middag-ete of ’n aand-ete, dan moet jy nie jou vriende uitnooi nie, ook nie jou broers of jou familie of ryk bure nie, want hulle sal jou miskien ook weer uitnooi om by hulle te kom eet, en so betaal hulle jou terug.

13. Maar wanneer jy mense na ’n ete uitnooi, dan moet jy die arm mense uitnooi, en die kreupeles, die verlamdes en die blindes.

14. Dan sal die Here jou seën, want hierdie mense het niks, hulle kan jou nie terugbetaal nie. Maar die Hére sal jou eendag terugbetaal wanneer al die mense wat reg gedoen het, weer begin lewe.”

Die gelykenis van die groot fees-ete

15. Een van die mense wat saam met Jesus geëet het, het gehoor wat Jesus sê oor die mense wat weer sal lewe. Hy sê toe vir Jesus: “Iemand wat eendag by die tafel sal sit waar God Koning is, sal ’n gelukkige mens wees.”

16. Maar Jesus het vir hom gesê: “Daar was ’n man wat baie mense genooi het na ’n ete.

17. Toe dit tyd word om te begin eet, stuur hy sy slaaf om vir almal wat hy genooi het, te sê: ‘Julle moet nou kom, alles is klaar, ons kan begin eet.’

18. Maar die mense wat uitgenooi was, het almal gesê hulle is jammer, hulle kan nie kom nie. Een man het vir die slaaf gesê: ‘Ek het ’n stuk grond gekoop en ek moet daarna gaan kyk. Ek vra vir jou, verskoon my asseblief.’

19. ’n Ander man het gesê: ‘Ek het vyf paar beeste gekoop en ek gaan nou kyk hoe goed hulle kan werk. Ek vra vir jou, verskoon my asseblief.’

20. ’n Ander man het gesê: ‘Ek het getrou en daarom kan ek nie kom nie.’

21. Die slaaf het teruggegaan en hy het vir sy eienaar alles vertel wat die mense gesê het. Die eienaar het kwaad geword en hy het vir sy slaaf gesê: ‘Gaan nou na die strate en smal paadjies van die stad, en bring die arm mense, die kreupeles, die blindes en die verlamdes hiernatoe.’

22. Die slaaf het dit gedoen en hy het vir die eienaar gesê: ‘Meneer, ek het gedoen wat jy gesê het, en daar is nog plek in die huis.’

23. Die eienaar sê toe vir die slaaf: ‘Gaan na die hoofpaaie en die klein paadjies en sê vir die mense hulle móét na my fees kom, sodat my huis vol kan wees.

24. Ek sê vir julle, nie één van daardie mense wat ek eerste genooi het, sal van my kos kry nie.’ ”

Hoe moet ’n dissipel van Jesus lewe?

25. Daar was baie mense wat saam met Jesus na Jerusalem gegaan het. Jesus draai toe om en Hy sê vir hulle:

26. “As iemand na My toe kom en hy is minder lief vir My as vir sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters en vir homself, dan kan hy nie my dissipel wees nie.

27. As iemand saam met My wil kom, dan moet hy lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis hang en sterf. As hy dit nie wil doen nie, dan kan hy nie my dissipel wees nie.

28. ’n Mens moet voor die tyd weet hoeveel iets gaan kos. ’n Man wat ’n wagtoring wil bou, moet eers gaan sit en dink hoeveel dit sal kos, hy moet kyk of hy genoeg geld het om dit klaar te bou.

29. As hy nie genoeg geld het nie, dan sal hy net die fondament kan bou, hy sal nie die toring kan klaar bou nie. Almal wat dit sien, sal hom spot

30. en sê: ‘Hierdie man het begin om iets te bou, maar hy kon dit nie klaarmaak nie.’

31. ’n Koning wat teen ’n ander koning wil oorlog maak, moet eers planne maak en vir homself vra: ‘Sal ek met my 10 000 soldate kan veg teen ’n koning wat 20 000 soldate het?’

32. As die koning besluit hy kan nie, dan stuur hy van sy manne terwyl die ander koning nog ver is, en hy probeer vrede maak.

33. So is dit ook met julle. As iemand vashou aan al sy goed, en hy wil nie sê mense kan alles vat nie, dan kan hy nie my dissipel wees nie.

34. Sout is goed, maar as die sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie.

35. ’n Mens kan niks daarmee doen nie. Jy kan dit ook nie op die koringlande of op ’n mishoop gooi nie. Jy kan dit net buite op die straat gooi. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê.”