Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 13:14-28 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die leier van die sinagoge was baie ontevrede omdat Jesus iemand op die Sabbatdag gesond gemaak het. Die leier het vir die mense gesê: “Daar is ses dae wanneer ’n mens moet werk. Julle kan op daardie dae kom as julle gesond wil word. Julle moenie op die Sabbatdag kom nie.”

15. Maar die Here het vir hom gesê: “Julle is skynheilig. Elkeen van julle maak op die Sabbatdag sy bees of donkie los waar hy by die krip staan en vreet, en julle lei hom weg sodat hy kan water drink.

16. Dit is dieselfde met hierdie vrou. Sy is een van ons, ’n Israeliet. En onthou, die Satan het haar 18 jaar lank vasgebind. Is dit dan verkeerd om haar op die Sabbatdag los te maak?”

17. Toe Jesus dit sê, het sy vyande nie geweet wat om te antwoord nie. Maar al die ander mense was baie bly oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.

18. Jesus het ook gesê: “Weet julle hoe dit is wanneer God Koning is? Ek sal dit vir julle so verduidelik.

19. Dit is soos ’n mosterd-saad wat iemand in sy tuin plant. Die saad groei en dit word ’n boom, en die voëls maak hulle neste in sy takke.”

20-21. Toe praat Jesus weer. Hy het gesê: “Ek sal probeer om dit vir julle ook só te verduidelik: Wanneer God Koning is, dan is dit soos ’n vrou wat ’n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.”

22. Jesus het deur baie stede en dorpies geloop toe Hy na Jerusalem gegaan het. Oral waar Hy gekom het, het Hy vir die mense geleer.

23. Iemand het vir Hom gevra: “Here, sal God net ’n paar mense red?”Jesus sê toe:

24. “Julle moet hard probeer om by die klein deurtjie in te gaan, want Ek sê vir julle: Baie mense sal die deur soek om in te gaan, maar hulle sal dit nie kry nie.

25. Die tyd sal kom wanneer die eienaar van die huis sal opstaan en die deur sal toesluit. Dan sal julle buite staan en begin klop aan die deur. Julle sal sê: ‘Meneer, maak oop die deur vir ons.’ Maar die eienaar sal vir julle sê: ‘Ek ken julle nie, ek weet nie van waar julle kom nie.’

26. En dan sal julle sê: ‘Maar ons het saam met jou by die tafel gesit en geëet en gedrink, en jy het vir die mense in ons strate geleer.’

27. Maar die eienaar sal vir julle sê: ‘Ek ken julle nie, ek weet nie van waar julle kom nie. Julle almal moet weggaan van my, julle het gedoen wat verkeerd is.’

28. By die plek waarnatoe julle gaan, sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn. Julle sal vir Abraham, Isak en Jakob en al die profete sien daar waar God Koning is, maar God sal julle uitgooi buitetoe.

Lees volledige hoofstuk Lukas 13