Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Toe Jesus met die Fariseërs en die skrifgeleerdes gepraat het, het daar ander mense ook gekom. Daar was so baie mense dat hulle mekaar raakgetrap het. Jesus praat toe eers met sy dissipels. Hy het gesê: “Julle moet oppas vir die Fariseërs, hulle is vals. Hulle is soos suurdeeg, ’n mens sien nie dat dit werk nie.

2. Mense kan probeer om dit weg te steek dat hulle vals is, maar God sal dit vir almal wys. Mense doen nou dinge in die geheim, maar God sal vir almal sê wat dit is.

3. Dieselfde sal gebeur wanneer julle die goeie boodskap oor My vir die mense bring. Alles wat julle nou oor My in die donker sê omdat julle bang is, sal God vir almal laat weet wanneer dit lig is. En alles wat julle nou oor My vir iemand in ’n huis saggies fluister in sy oor, sal God vir almal laat weet. Mense sal dan op die huise se dakke staan en skree en dit vir almal sê.”

4. “Julle is my vriende. Daarom sê Ek vir julle dat julle nie bang moet wees vir mense nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak. Maar daarna kan hulle niks meer aan julle doen nie.

5. Ek sal vir julle wys vir wie julle bang moet wees. Julle moet net vir God bang wees, want wanneer julle dood is, dan kan Hy julle in die hel laat brand. Ja, Ek sê vir julle, julle moet vir Gód bang wees.

6. ’n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie.

7. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”

8. Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My.

9. Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek ook vir God se engele sê daardie persoon behoort nie aan My nie.

10. As iemand iets sê teen My, die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nie vergewe nie.

11. En wanneer die mense julle na die Joodse regters in die sinagoges vat of wanneer hulle julle hof toe vat, na heidense regters toe, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet antwoord of wat julle moet sê nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12