Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:34-42 Bybel vir Almal (ABA)

34. Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry, en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie.

35. Daarom moet jy seker maak dat daar altyd lig in jou is, en nie donker nie.

36. As jou lewe vol lig is, dan sal jy vol lig wees soos wanneer ’n lamp se lig op jou skyn.”

37. Toe Jesus klaar gepraat het, het ’n Fariseër Hom uitgenooi om by sy huis te kom eet. Toe Jesus daar kom, het Hy dadelik by die tafel gaan sit.

38. Die Fariseër het dit gesien en hy was verbaas omdat Jesus nie eers sy hande gewas het voordat Hy by die tafel gaan sit het nie.

39. Die Here het gesien die Fariseër is verbaas, en Hy sê vir hom: “Julle Fariseërs maak ook die buitekant van bekers en borde skoon, maar julle is heeltemal sleg binne-in julleself en julle wil altyd meer en meer goed hê.

40. Julle is baie dom. God het nie net julle buitekant gemaak nie, Hy het ook julle binnekant gemaak.

41. Daarom moet julle van die kos wat in julle bekers en op julle borde is, vir die arm mense gee. As julle dit doen, dan wys julle dat julle binne-in heeltemal rein is.

42. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle gee tiendes, ook van kruisement en wynruit, ja, van elke soort kruie. Maar God wil ook hê julle moet reg doen aan mense en julle moet goed wees vir hulle, maar julle doen dit nie. Julle moet dit doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11