Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9:15-33 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die Fariseërs het ook vir hom gevra hoekom hy nou kan sien. Hy het vir hulle gesê: “’n Man het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek kon sien.”

16. Party Fariseërs het gesê: “Die man wat dit gedoen het, kom nie van God nie, want hy werk op die Sabbatdag.”Ander Fariseërs het gesê: “Iemand wat hierdie wondertekens doen, is nie ’n sondaar nie.”Die Fariseërs het baie met mekaar gestry.

17. Toe vra die Fariseërs weer vir die man wat blind was: “Wat dink jy van die man wat jou laat sien het?”Die man wat blind was, het gesê: “Ek dink hy is ’n profeet.”

18. Die man was eers blind en hy kon nou sien, maar die Jode wou dit nie glo nie. Toe roep hulle die ouers van die man wat nou kon sien

19. en hulle vra vir sy ouers: “Is hierdie man julle seun? Is dit waar dat hy blind was toe hy gebore is? Hoekom kan hy nou sien?”

20. Sy ouers het gesê: “Ons weet hy is ons seun. Ons weet hy was blind toe hy gebore is.

21. Maar ons weet nie hoekom hy nou kan sien nie. Ons weet ook nie wie hom laat sien het nie. Julle moet vir hom vra. Hy is nie meer ’n kind nie, hy kan self praat. Hy kan self vir julle sê wat gebeur het.”

22. Die man se ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het klaar besluit: As iemand sê hy glo dat Jesus die Christus is, dan mag hy nooit weer in die sinagoge kom nie.

23. Dit is hoekom die man se ouers gesê het: “Hy is nie meer ’n kind nie, hy kan self praat. Julle moet vir hóm vra.”

24. Die Jode roep toe weer die man wat blind was. Hulle het vir hom gesê: “Jy moet God eer en jy moet die waarheid praat. Ons weet hierdie man Jesus is ’n sondaar.”

25. Die man het gesê: “Ek weet nie of Jesus ’n sondaar is nie, maar ek weet ek was blind, en nou sien ek.”

26. Die Jode het vir hom gesê: “Wat het Jesus vir jou gedoen? Hoe het hy jou laat sien?”

27. Die man het vir hulle gesê: “Ek het dit klaar vir julle vertel, en julle het nie geluister nie. Hoekom wil julle dit weer hoor? Wil julle Jesus se dissipels word?”

28. Die Jode het kwaad geword en gesê: “Jy is ’n dissipel van daardie man. Ons is nie, ons is dissipels van Moses.

29. Ons weet God het met Moses gepraat, maar ons weet nie van waar hierdie man kom nie.”

30. Die man wat blind was, het vir hulle gesê: “Ek verstaan julle nie. Julle weet nie van waar Jesus kom nie, maar hy het my laat sien.

31. Ons weet God luister nie na sondaars nie. God luister na mense wat Hom dien en wat doen wat Hy wil hê.

32. Ons het nooit voorheen gehoor van iemand wat ’n blinde mens laat sien het nie, ’n mens wat blind was toe hy gebore is.

33. Hierdie man kom van God, daarom kon hy dit doen.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 9