Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:6-16 Bybel vir Almal (ABA)

6. Hulle het dit vir Jesus gevra, want hulle wou hê Hy moes iets sê wat verkeerd is, dan kon hulle Hom daaroor beskuldig by die Joodse Raad. Maar Jesus het gebuk en Hy het met sy vinger op die grond geskryf.

7. Hulle het aangehou om vir Jesus te vra wat Hy dink hulle moet doen. Toe het Jesus opgestaan en Hy het vir hulle gesê: “As daar een van julle is wat nog nooit sonde gedoen het nie, dan moet hy haar eerste met ’n klip gooi!”

8. Jesus het weer gebuk en Hy het op die grond geskryf.

9. Toe die mense hoor wat Jesus sê, het hulle almal weggegaan. Die leiers het eerste weggegaan, en toe het die ander mense begin weggaan. Net Jesus het daar gebly en die vrou het nog voor Hom gestaan.

10. Jesus het regop gestaan en Hy het vir die vrou gevra: “Mevrou, waar is die mense wat jou beskuldig het? Het iemand gesê die mense moet jou doodgooi met klippe?”

11. Sy het gesê: “Nee, niemand nie, Here.”Jesus het vir haar gesê: “Ek doen dit ook nie. Jy mag gaan, maar jy moenie weer die sonde doen nie.”]

12. Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: “Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.”

13. Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Jy praat oor jouself. Ons kan nie glo wat jy oor jouself sê nie.”

14. Jesus het vir hulle gesê: “Ja, Ek praat oor Myself, maar wat Ek oor Myself sê, is waar, want Ek weet van waar Ek kom en waarnatoe Ek gaan. Julle weet nie van waar Ek kom of waarnatoe Ek gaan nie.

15. Julle kyk na mense se buitekant en dan oordeel julle die mense. Ek oordeel niemand nie.

16. Wanneer Ek mense oordeel, dan oordeel Ek reg, want dit is nie Ek alleen wat oordeel nie. Dit is Ek en die Vader wat oordeel, die Vader wat My na die wêreld gestuur het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8