Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:18-34 Bybel vir Almal (ABA)

18. Iemand wat vir ander mense dinge leer wat van homself kom, doen dit sodat die mense kan dink hy is belangrik. Ek doen dit nie. Ek wil hê dat die mense moet weet God is belangrik, God wat My na die wêreld gestuur het. Daarom kan die mense My glo. Ek is nie vals nie.

19. Moses het vir julle wette gegee, maar nie een van julle doen wat die wette sê nie. Hoekom probeer julle My doodmaak?”

20. Die mense het vir Jesus gesê: “Jy is mal, niemand probeer jou doodmaak nie.”

21. Jesus het vir hulle gesê: “Ek het net een wonderwerk gedoen, en julle is verbaas omdat Ek dit op die Sabbatdag gedoen het.

22. Moses het vir julle geleer om julle seuns te besny. Maar dit was nie net Moses nie, julle voorvaders het dit ook gedoen. En julle besny ook partymaal seuns op die Sabbatdag.

23. Julle besny iemand op die Sabbatdag om gehoorsaam te wees aan die Wette van Moses. Hoekom is julle nou kwaad vir My wanneer Ek ’n mens se hele liggaam op die Sabbatdag gesond maak?

24. Julle moenie na iemand se buitekant kyk en dan sê hy doen verkeerd nie. Julle moet regverdig wees.”

25. Party van die mense in Jerusalem het gesê: “Daar is die man, die mense wil hom doodmaak.

26. Hier praat hy nou voor al die mense en niemand sê hy praat verkeerd nie. Miskien dink die leiers hy is die Christus.

27. Maar hierdie man kan nie die Christus wees nie, want ons weet van waar hy kom. Wanneer die Christus kom, dan sal niemand weet van waar Hy kom nie.”

28. Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het hard gesê: “Julle sê julle ken My en julle weet van waar Ek kom. Dit is nie waar nie. Ek het nie self besluit om na die wêreld te kom nie, God het My gestuur. Wat Hy doen, is reg. Maar julle ken Hom nie.

29. Ek ken Hom, want Ek kom van Hom. Dit is Hy wat My gestuur het.”

30. Toe het die mense probeer om Jesus te vang, maar niemand kon dit doen nie. Dit was nog nie sy tyd nie.

31. Baie van die mense het in Hom geglo. Hulle het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy dan meer wondertekens doen as hierdie man? Nee.”

32. Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Daarom het die priesterleiers en die Fariseërs wagte gestuur om Jesus te vang.

33. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal nog ’n kort tydjie by julle wees. Dan gaan Ek terug na God toe wat My na die wêreld gestuur het.

34. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 7