Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 2:14-25 Bybel vir Almal (ABA)

14. By die tempel het Hy mense gesien wat beeste, skape en duiwe verkoop. Daar het ook mense gesit wat geld omruil.

15. Toe het Jesus tou geneem en Hy het ’n sweep gemaak. Hy het almal uit die tempel gejaag, ook die skape en die beeste. Hy het die mense wat geld omruil, se geld op die grond gegooi. Hy het hulle tafels ook omgegooi.

16. Hy het vir die mense wat duiwe verkoop, gesê: “Vat weg al hierdie goed! Julle moenie ’n winkel maak van my Vader se tempel nie!”

17. Toe onthou sy dissipels dat daar in die Ou Testament geskryf is: Ek sal sterf omdat Ek lief isvir u tempel.

18. Maar die Jode het vir Jesus gevra: “Wys vir ons ’n wonderteken om vir ons te bewys dat jy al hierdie dinge mag doen.”

19. Jesus het vir hulle gesê: “Julle kan hierdie tempel afbreek, en Ek sal dit in drie dae weer bou.”

20. Die Jode het gesê: “Die mense het 46 jaar gewerk om die tempel klaar te bou! En jy sê jy sal dit in drie dae weer bou! Ons glo dit nie!”

21. Maar Jesus het van sy eie liggaam gepraat toe Hy van die tempel gepraat het.

22. Later, nadat Jesus gesterf het en toe Hy weer begin lewe het, het die dissipels onthou wat Hy gesê het. Hulle het geglo wat in die Ou Testament geskryf is en wat Jesus gesê het.

23. Jesus was in Jerusalem om die Paasfees te vier. Baie mense het die wondertekens gesien wat Hy gedoen het en daarom het hulle in Hom geglo.

24. Maar Jesus het hulle almal goed geken, en daarom het Hy geweet hulle glo nie regtig nie.

25. Jesus het self geweet wat mense dink. Dit was nie nodig dat iemand vir Hom vertel hoe mense is nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 2