Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:16-27 Bybel vir Almal (ABA)

16. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moenie dom wees nie.

17. Elke goeie ding wat julle kry, elke present wat goed en reg is, kom van bo af, dit kom van die Vader wat die sterre in die lug gemaak het. Die Vader verander nie, Hy is soos ’n lig wat altyd skyn.

18. God het besluit om vir ons die boodskap te stuur wat waar is, Hy het vir ons nuwe lewe gegee, ons het die eerste en belangrikste geword van almal wat Hy nuut gemaak het.

19. My vriende, ek is baie lief vir julle. Julle moet onthou: Elke mens moet altyd gereed wees om te luister na God se boodskap, maar hy moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie.

20. Want wanneer ’n mens kwaad word, dan doen hy nie die dinge wat God wil hê nie.

21. Daarom moet julle heeltemal ophou om verkeerde en slegte dinge te doen. Julle moet nederig wees en julle moet luister na die goeie boodskap wat God in julle harte gegee het. Dit is die boodskap wat vir julle kan red.

22. Julle moet doen wat God vir julle sê. As julle luister na sy boodskap, maar julle doen nie wat Hy sê nie, dan bedrieg julle julleself.

23. Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos ’n mens wat in ’n spieël na sy eie gesig kyk.

24. Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het.

25. Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat ’n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so ’n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê.

26. As iemand dink dat hy vir God dien maar hy dink nie voordat hy praat nie, dan bedrieg hy homself, en dan beteken sy godsdiens niks.

27. Die regte en die rein manier om vir God die Vader te dien, is dit: Jy moet sorg vir weeskinders en vir weduwees wat swaarkry. En ’n mens moenie dat hierdie sondige wêreld jou onrein laat word sodat jy slegte dinge doen nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1