Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 6:7-20 Bybel vir Almal (ABA)

7. Want wanneer grond baie reën kry en die reën sak diep in die grond, dan groei daar plante in die grond, en die mense wat in die grond werk, kan dit gebruik. Dan seën God die grond.

8. Maar as daar dorings en onkruid groei, dan beteken dit niks, en dan is die tyd naby wanneer God dit sal vervloek. Aan die einde sal vuur die grond en alles daarop verwoes.

9. My vriende, dit is waar dat ons nou al hierdie dinge gesê het, maar ons is baie seker dat dit baie beter gaan met julle en dat God julle sal red.

10. Want God doen nie verkeerd nie, Hy sal nie die dinge vergeet wat julle gedoen het nie, en Hy sal nie vergeet hoe lief julle vir Hom was en hoe julle vir die gelowiges gesorg het en nou nog sorg nie.

11. Maar ons wil baie graag hê dat elkeen van julle altyd hard moet probeer om tot die einde te wys dat julle baie seker is van die dinge wat julle weet en hoop.

12. Julle moet dit doen, julle moenie lui wees in die geloof nie, julle moet doen soos die mense wat gekry het wat God belowe het. Hulle het dit gekry omdat hulle in God geglo het en omdat hulle geduldig gewag het.

13. Daar is niemand wat belangriker is as God nie. Toe Hy vir Abraham ’n belofte gemaak het, het God nie gesê dat iemand sy getuie is nie. God was sy eie getuie toe Hy vir Abraham belowe het

14. en gesê het: “So seker soos Ek lewe, Ek sal jou baie seën, Ek sal jou nageslag baie maak.”

15. En so het Abraham geduldig gewag vir die dinge wat God belowe het, en daarna het die dinge met hom gebeur wat God belowe het.

16. Want wanneer mense iets belowe, dan sê hulle gewoonlik iemand is die getuie, en die getuie is belangriker as hulleself. Hierdie belofte wys dan dat dit waar is wat hulle sê, en niemand kan dan nog daaroor stry nie.

17. God wou baie graag wys dat die dinge wat Hy wil doen, nie kan verander nie. Hy wou dit wys vir die mense wat alles sal kry wat Hy belowe het. Daarom was God sy eie getuie om te wys dat die dinge wat Hy belowe het, seker is.

18. God het dinge belowe en Hy is sy eie getuie, en hierdie twee dinge kan nie verander nie omdat God nie kan lieg nie. Ons het na God toe gevlug. Daarom kan ons baie seker wees dat die dinge nog sal gebeur, en ons kan hoop en wag daarvoor.

19. Ons hoop en ons wag vir die dinge wat sal gebeur, daarom is ons lewe veilig en daarom kan ons vas glo. Dit is soos ’n anker wat keer sodat ’n skip nie wegdryf nie. Ons hoop en ons is seker dat Jesus ons anker is, Jesus wat agter die gordyn in die tempel ingaan.

20. Jesus is ons Leier en Hy het voor ons daar ingegaan om ons te help. Hy het dit gedoen omdat Hy vir altyd Hoëpriester geword het, soos Melgisedek hoëpriester was.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 6