Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:17-24 Bybel vir Almal (ABA)

17. Want julle weet ook dat Esau later wou hê dat sy pa hom moet seën, maar Isak kon toe nie vir hom seën nie. Esau het gehuil en gesoebat dat sy pa hom moet seën, maar dit was te laat, hy kon nie regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie.

18. Julle het nie soos die Israeliete gekom by iets waaraan ’n mens kan raak nie, julle het nie gekom by ’n vuur wat brand, of by ’n donker wolk, of by ’n stormwind nie.

19. Julle het ook nie gekom waar ’n trompet geblaas het en waar Iemand gepraat het uit die hemel nie. Die mense wat dit gehoor het, het gesoebat dat God niks meer vir hulle moet sê nie,

20. want hulle kon nie doen wat God gesê het nie. Hy het gesê: “As ’n dier aan die berg raak, dan moet hulle hom doodgooi met klippe.”

21. Die dinge wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses gesê het: “Ek bewe, ek is baie bang.”

22. Nee, julle het by Sionsberg gekom, julle het gekom by die stad van die God wat lewe, by Jerusalem wat in die hemel is. Julle het ook gekom by so baie engele dat ’n mens hulle nie kan tel nie, julle het gekom by die fees waar almal bly is.

23. Julle het gekom by die vergadering van die mense wat soos God se oudste seuns is, hulle name is opgeskryf in die hemel. Julle het gekom by die Regter wat die God van almal is, julle het gekom by die mense wat voorheen gelewe het en wat heeltemal geword het soos God wil hê hulle moet wees.

24. Julle het ook gekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en julle het gekom by die bloed van Jesus wat gevloei het en wat vir ons ’n beter boodskap bring as die bloed van Abel.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12