Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:25-36 Bybel vir Almal (ABA)

25. Nee, Moses het gekies om saam met die volk van God swaar te kry, hy het nie gekies om vir ’n kort tydjie die sonde te geniet nie.

26. Want Moses het gedink dat wanneer mense hom beledig soos hulle later die Christus beledig het, dan is hy ryker as wanneer hy al die mooi en duur goed van Egipte sal hê, want Moses wou graag die beloning kry.

27. Moses het in God geglo, dáárom het hy weggegaan uit Egipte, en nié omdat hy bang was vir die koning wat baie kwaad geword het nie. Moses het dit gedoen omdat hy was soos iemand wat vir God kon sien, ander mense kon nie vir God sien nie.

28. Moses het in God geglo, en daarom het hy gesê die Israeliete moet die Paasfees vier en mense moet bloed spat teen die deure se rame sodat die engel wat mense moet doodmaak, nie die oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van die Israeliete begin doodmaak nie.

29. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het hulle deur die Rooi See gegaan soos wanneer mense oor droë grond trek. Toe die Egiptenaars dit probeer doen het, het hulle in die see verdrink.

30. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval nadat die Israeliete sewe dae lank om die mure van Jerigo geloop het.

31. Ragab, die prostituut, het in God geglo, en daarom het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar, daarom het sy nie gesterf nie.

32. Ek sal nie nog iets sê nie, dit is nie nodig nie, want dit sal baie lank neem om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel en die profete.

33. Hulle almal het in God geglo, en daarom het hulle die konings van ander lande oorwin. Hulle het gedoen wat reg is, hulle het gekry wat God vir hulle belowe het. Hulle het in God geglo en daarom kon leeus nie hulle bekke oopmaak om hulle te byt nie.

34. Hulle het groot vure doodgemaak, hulle het vry weggekom toe mense hulle wou doodmaak met die swaard. Hulle was swak, maar hulle het sterk geword, hulle was baie sterk soldate en hulle het die leërs van die vyande laat vlug.

35. Vroue het hulle mense wat gesterf het, teruggekry uit die dood omdat God hulle weer laat lewe het. Mense het gelowiges so seer gemaak dat hulle gesterf het. Hierdie gelowiges wou nie sê dat hulle opgehou het om in God te glo nie. As hulle dit gesê het, dan sou hulle vry kon weggaan. Maar hierdie mense wat so gesterf het, het geglo dat God hulle weer sal laat lewe in ’n beter lewe.

36. Mense het ander gelowiges gespot en met ’n sweep geslaan, hulle het die gelowiges ook geboei en in die tronk gesit.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11