Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:19-37 Bybel vir Almal (ABA)

19. Hierdie koning het ’n skelm plan gemaak teen ons volk. Hy het slegte dinge gedoen aan ons voorvaders. Hy het gesê hulle moet hulle babas buite neersit sodat die babas kan sterf.

20. In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was baie mooi. Sy ouers het drie maande lank goed vir hom gesorg.

21. Toe het hulle hom buite neergesit. Die farao se dogter het hom gekry en sy het hom aangeneem en grootgemaak soos haar eie seun.

22. Moses het al die wysheid van die Egiptenaars geleer, hy het geleer om die regte dinge te sê en te doen.

23. “Toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit gaan met sy mense, die Israeliete.

24. Hy sien toe ’n Egiptenaar wat besig was om slegte dinge te doen aan ’n Israeliet. Moses het die Israeliet gehelp, hy het die Egiptenaar gestraf en hy het hom doodgeslaan.

25. Moses het gedink dat die Israeliete sal verstaan dat God hom wil gebruik om hulle te red. Maar hulle het dit nie verstaan nie.

26. Die volgende dag het Moses gekom by twee Israeliete wat baklei. Hy wou hulle help om vrede te maak. Hy sê toe: ‘Vriende, julle altwee is Israeliete. Hoekom baklei julle met mekaar?’

27. Maar die een wat die probleem begin het, het vir Moses weggestamp en gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?

28. Nou wil jy vir my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het.’

29. Toe Moses dit hoor, het hy gevlug. Hy het ’n vreemdeling geword in die land Midian. Daar het hy die pa geword van twee seuns.

30. “Daar het 40 jaar verbygegaan. Toe het ’n engel aan Moses verskyn in die woestyn by Sinai-berg. Die engel was in die vlamme van ’n bos wat gebrand het.

31. Moses was verbaas oor wat hy gesien het. Hy het nader gegaan om te kyk wat dit is, en toe hoor hy die stem van die Here wat sê:

32. ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het begin bewe en hy was te bang om na die bos te kyk.

33. Toe sê die Here vir hom: ‘Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.

34. Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’

35. “Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos.

36. Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank wonderwerke en tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn.

37. Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘God sal ’n profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal ’n profeet wees, soos ek.’

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7