Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:10-26 Bybel vir Almal (ABA)

10. “Vriende, ons moenie nou verder seil nie. Dit is baie gevaarlik en ons sal baie dinge verloor. Ons sal die goed op die skip verloor, en ook die skip én ons lewens.”

11. Maar die offisier het geluister na wat die kaptein van die skip en die eienaar van die skip vir hom gesê het, hy wou nie na Paulus luister nie.

12. ’n Mens kon nie die hele winter by Mooi Hawens bly nie. Daarom het die meeste mense op die skip gesê ons moet verder seil en ons moet probeer om tot by Feniks te kom. Feniks was ’n hawe van die eiland Kreta. Dit was ’n veilige plek om te bly terwyl dit winter is, want die suidweste-kant en die noordweste-kant van die hawe was oop.

13. Die suidewind het saggies gewaai. Toe dink hulle dat hulle plan kan slaag, die plan om tot by die hawestad Feniks te seil. Daarom het hulle die skip se anker opgetrek en hulle het begin seil. Hulle het naby die eiland Kreta verbygeseil.

14. Maar hulle het nie lank geseil nie, toe begin ’n baie sterk wind waai, die wind het van Kreta gekom. Dit was ’n noordooste-wind, die wind se naam was Eurakilon.

15. Die wind het die skip saamgesleep. Ons kon nie die skip draai sodat dit teen die wind seil nie. Daarom het ons die skip gelos sodat dit gedryf het, saam met die wind.

16. Ons het die skip verby ’n klein eiland gestuur, die eiland se naam was Kauda. Die wind was daar nie baie sterk nie. Toe het ons baie gesukkel om te keer sodat die klein bootjie nie wegdryf van die skip nie.

17. Die matrose het die klein bootjie opgetrek en hulle het dit bo-op die skip vasgemaak. Toe het hulle toue om die skip gebind en so het hulle probeer om die skip sterker te maak. Hulle was bang dat die wind die skip sal stoot tot by die sandbanke van Sirtis, dan sou die skip stukkend breek. Daarom het hulle ’n seil aan ’n tou vasgemaak en hulle het die seil in die see gegooi om die skip stadiger te laat dryf. So het ons verder gedryf.

18. Dit was ’n kwaai storm. Daarom het die matrose die volgende dag begin om die goed wat op die skip was, in die see te gooi.

19. Op die derde dag het hulle self ook baie van die skip se seile en toue en pale in die see gegooi.

20. Ons het baie dae lank nie die son gesien nie, ook nie die sterre nie, en die storm was baie kwaai. Daarom het ons opgehou om te hoop, ons het gedink dat ons sal sterf.

21. Hulle het ’n lang tyd niks geëet nie. Paulus het toe opgestaan en hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Vriende, ek het gesê ons moenie wegseil van Kreta nie. Hoekom het julle nie na my geluister nie? Dan het julle nie nou hierdie groot probleme gehad nie, en dan het julle ook nie julle goed verloor nie.

22. Maar nou wil ek vir julle sê wat julle moet doen. Julle moet sterk wees. Nie een van julle sal sterf nie, maar die skip sal stukkend breek en sink.

23. Want gisternag het daar ’n engel by my kom staan. Dit was ’n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien.

24. Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’

25. Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het.

26. Maar die skip sal stukkend breek by een van die eilande.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27