Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:9-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. Filippus het vier dogters gehad, hulle was nog nie getroud nie. Die vier dogters was profete.

10. Ons het ’n lang tyd daar gebly. Terwyl ons daar was, het ’n profeet van Judea daar aangekom. Sy naam was Agabus.

11. Agabus het na ons toe gekom en hy het Paulus se belt gevat. Agabus het sy eie hande en voete met die belt vasgebind en gesê: “Die Heilige Gees sê die Jode in Jerusalem sal die man wat altyd hierdie belt dra, só vasbind. En hulle sal hom dan vir die heidene gee.”

12. Toe ons hoor wat Agabus sê, het ons en die gelowiges wat daar woon, vir Paulus ernstig gevra om nie na Jerusalem te gaan nie.

13. Toe sê Paulus: “Wat doen julle nou? Julle huil en julle maak my hartseer! Ek is gereed om te gaan. Die mense kan my vang in Jerusalem, dit maak nie saak nie. Ja, ek is ook gereed om in Jerusalem te sterf vir die Naam van die Here Jesus.”

14. Paulus wou nie luister na wat ons vir hom sê nie, en daarom het ons stilgebly. Ons het net gesê: “Ons bid dat die Here sal doen wat Hy wil doen.”

15. Nadat hierdie tyd verby was, het ons gereedgemaak om na Jerusalem te gaan.

16. Party van die gelowiges van Sesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons in Jerusalem gebring na die huis van Mnason. Mnason het voorheen op die eiland Siprus gewoon en hy het lank gelede ’n gelowige geword. Ons het by hom in Jerusalem gebly.

17. Toe ons in Jerusalem aankom, was die gelowiges daar baie bly om ons te sien.

18. Die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan. Al die ouderlinge was daar.

19. Paulus het hulle gegroet en toe het hy alles vertel wat God gedoen het, en hoe hy God se werk by die heidene gedoen het.

20. Toe hulle hoor wat Paulus sê, het hulle God geprys. En hulle het vir Paulus gesê: “Vriend, jy weet daar is duisende Jode wat in Christus glo, en hulle is almal baie gehoorsaam aan die wette.

21. Party mense het vir hulle gesê dat jy vir al die Jode wat by die heidene woon, sê hulle moenie doen wat in Moses se wette geskryf is nie. Hulle sê dat jy sê daardie Jode moenie hulle kinders besny nie en hulle moenie soos Jode lewe nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21