Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:23-40 Bybel vir Almal (ABA)

23. In daardie tyd was die mense in die stad Efese baie kwaad en ontsteld oor “Die Pad.”

24. Daar was ’n silwersmid in Efese. Sy naam was Demetrius. Hy het klein huisies van silwer gemaak, die huisies het gelyk soos die tempel van Artemis. So het Demetrius gesorg dat die ambagsmanne altyd baie werk gekry het.

25. Hy het toe al hierdie ambagsmanne en ander mense wat ook dieselfde werk gedoen het, geroep om bymekaar te kom, en hy het vir hulle gesê: “Mense, julle weet dat hierdie werk wat ons doen, vir ons ryk maak.

26. Julle sien en hoor ook wat hierdie Paulus in Efese en in die hele provinsie Asië gedoen het. Hy het baie mense verkeerde dinge laat begin glo. Hy het vir hulle gesê: ‘Mense maak hierdie gode met hulle hande, maar die gode lewe nie regtig nie.’

27. Daar sal nou ’n groot probleem kom. Ons is bekommerd dat die mense sleg sal praat van ons werk, en ook dat die mense sal dink die tempel van die groot godin Artemis beteken niks. Al die mense van Asië en die mense van die hele wêreld, almal wat vir Artemis respekteer, sal nie meer dink dat sy so groot en belangrik is nie.”

28. Toe die manne dit hoor, het hulle baie kwaad geword en geskree: “Artemis van die Efesiërs is baie belangrik!”

29. Al die mense in die stad het opstandig geword. Hulle hardloop toe almal saam na die teater. Hulle het ook vir Gaius en Aristargus gegryp en saamgeneem. Gaius en Aristargus het van die provinsie Masedonië gekom en hulle het oral saam met Paulus gegaan.

30. Paulus wou na die vergadering van die volk gaan om met die mense te praat, maar die gelowiges het gesê hy mag nie gaan nie.

31. Party van die belangrike leiers van die provinsie Asië was ook Paulus se vriende. Hulle het vir Paulus ’n boodskap gestuur en hulle het vir hom mooi gevra om nie na die teater te gaan nie.

32. Party mense het iets geskree, en ander mense het iets anders geskree. Al die mense in die vergadering was deurmekaar, en baie mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaargekom het nie.

33. Die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en party van die mense het toe vir hom gesê wat hy moet sê. Hy wys toe met sy hand dat hy vir die vergadering van die volk wou sê wat gebeur het.

34. Toe hulle uitvind dat Aleksander ’n Jood is, het hulle almal saam omtrent twee uur lank aangehou skree en gesê: “Artemis van die Efesiërs is baie belangrik!”

35. Die hoof-amptenaar het die mense stilgemaak, en toe het hy vir hulle gesê: “Efesiërs, al die mense weet dat die stad van die Efesiërs die tempel van die groot Artemis beskerm, en die stad beskerm ook Artemis se beeld wat uit die hemel geval het.

36. Dit is die waarheid, niemand kan oor hierdie dinge stry nie. Julle moet nou kalm en rustig wees en julle moenie haastig wees om iets verkeerd te doen nie.

37. Want julle het hierdie mans hiernatoe gebring, maar hulle is nie mense wat dinge uit tempels steel nie én hulle is ook nie mense wat slegte dinge van ons godin sê nie.

38. Daar is goewerneurs en die hof is oop. As Demetrius en die ambagsmanne saam met hom iemand wil beskuldig, dan moet hulle hom na die hof vat.

39. Maar as julle ook oor iets anders wil praat, dan moet die volksvergadering daaroor besluit.

40. Want mense sal miskien vir ons beskuldig en sê dat ons vandag geskree en geraas het, maar ons weet nie hoekom nie. Ons sal ook nie kan sê hoekom ons kwaad geword het nie.”En nadat die hoof-amptenaar hierdie dinge gesê het, het hy gesê die vergadering is verby.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19