Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:15-35 Bybel vir Almal (ABA)

15. Maar die bose gees het hulle geantwoord en gesê: “Jesus, ja ek ken Hom, en ek weet van Paulus, maar júlle, ek ken julle nie.”

16. En die man wat die bose gees in hom gehad het, spring toe op hulle. Hy het hulle almal aangeval en hy het hulle baie geslaan. Hulle het uit daardie huis gevlug en hulle was kaal en vol seerplekke.

17. Al die Jode en die Grieke wat in die stad Efese gewoon het, het gehoor wat gebeur het. Toe het hulle almal bang geword, en hulle het die Naam van die Here Jesus geprys.

18. Baie van die mense het gelowiges geword. Hulle het gekom en hulle het bely dat hulle verkeerde dinge gedoen het. Hulle het vir almal vertel wat hulle alles gedoen het.

19. Baie van die mense wat voorheen getoor het, het hulle boekrolle gebring en hulle het dit verbrand waar al die mense dit kon sien. Die mense het getel hoeveel al die boeke gekos het, en dit was 50 000 silwer geldstukke.

20. Omdat hierdie dinge gebeur het, het meer en meer mense die boodskap van die Here gehoor en dit geglo.

21. Nadat al hierdie dinge gebeur het, het die Heilige Gees vir Paulus laat besluit om deur die provinsies Masedonië en Agaje te gaan tot in Jerusalem. Paulus het gesê: “Nadat ek in Jerusalem was, moet ek ook na die stad Rome gaan.”

22. Hy het toe twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, na Masedonië gestuur. Maar Paulus het self nog ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.

23. In daardie tyd was die mense in die stad Efese baie kwaad en ontsteld oor “Die Pad.”

24. Daar was ’n silwersmid in Efese. Sy naam was Demetrius. Hy het klein huisies van silwer gemaak, die huisies het gelyk soos die tempel van Artemis. So het Demetrius gesorg dat die ambagsmanne altyd baie werk gekry het.

25. Hy het toe al hierdie ambagsmanne en ander mense wat ook dieselfde werk gedoen het, geroep om bymekaar te kom, en hy het vir hulle gesê: “Mense, julle weet dat hierdie werk wat ons doen, vir ons ryk maak.

26. Julle sien en hoor ook wat hierdie Paulus in Efese en in die hele provinsie Asië gedoen het. Hy het baie mense verkeerde dinge laat begin glo. Hy het vir hulle gesê: ‘Mense maak hierdie gode met hulle hande, maar die gode lewe nie regtig nie.’

27. Daar sal nou ’n groot probleem kom. Ons is bekommerd dat die mense sleg sal praat van ons werk, en ook dat die mense sal dink die tempel van die groot godin Artemis beteken niks. Al die mense van Asië en die mense van die hele wêreld, almal wat vir Artemis respekteer, sal nie meer dink dat sy so groot en belangrik is nie.”

28. Toe die manne dit hoor, het hulle baie kwaad geword en geskree: “Artemis van die Efesiërs is baie belangrik!”

29. Al die mense in die stad het opstandig geword. Hulle hardloop toe almal saam na die teater. Hulle het ook vir Gaius en Aristargus gegryp en saamgeneem. Gaius en Aristargus het van die provinsie Masedonië gekom en hulle het oral saam met Paulus gegaan.

30. Paulus wou na die vergadering van die volk gaan om met die mense te praat, maar die gelowiges het gesê hy mag nie gaan nie.

31. Party van die belangrike leiers van die provinsie Asië was ook Paulus se vriende. Hulle het vir Paulus ’n boodskap gestuur en hulle het vir hom mooi gevra om nie na die teater te gaan nie.

32. Party mense het iets geskree, en ander mense het iets anders geskree. Al die mense in die vergadering was deurmekaar, en baie mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaargekom het nie.

33. Die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en party van die mense het toe vir hom gesê wat hy moet sê. Hy wys toe met sy hand dat hy vir die vergadering van die volk wou sê wat gebeur het.

34. Toe hulle uitvind dat Aleksander ’n Jood is, het hulle almal saam omtrent twee uur lank aangehou skree en gesê: “Artemis van die Efesiërs is baie belangrik!”

35. Die hoof-amptenaar het die mense stilgemaak, en toe het hy vir hulle gesê: “Efesiërs, al die mense weet dat die stad van die Efesiërs die tempel van die groot Artemis beskerm, en die stad beskerm ook Artemis se beeld wat uit die hemel geval het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19