Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:23-37 Bybel vir Almal (ABA)

23. Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas.

24. Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in ’n blok gesit.

25. In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik was daar ’n groot aardbewing en die fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval.

27. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het.

28. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.”

29. Toe het die wag gevra dat iemand ’n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval.

30. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?”

31. Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.”

32. En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here.

33. Die wag het toe vir hulle laat in die nag saamgeneem en hy het hulle seerplekke gewas. En Paulus het hom en al die mense in sy huisgesin dadelik gedoop.

34. Die wag het hulle toe na sy huis gebring en hy het vir hulle kos gegee om te eet. Hy en almal in sy huisgesin was baie bly omdat hulle nou in God begin glo het.

35. Die volgende oggend het die Romeinse regeerders die polisie na die wag toe gestuur om vir hom te sê: “Jy moet daardie manne vry laat weggaan uit die tronk.”

36. Die wag het toe vir Paulus vertel wat die polisie gesê het. Hy het gesê: “Die Romeinse regeerders het vir my ’n boodskap gestuur dat ek julle vry moet laat weggaan. Kom nou uit en gaan weg met vrede in julle harte.”

37. Maar Paulus het vir die polisie gesê: “Ons is Romeinse burgers, en niemand het ons in ’n hof ge-oordeel nie. Maar die Romeinse regeerders het ons laat slaan waar almal dit kon sien, en hulle het ons in die tronk laat gooi. En nou wil hulle vir ons laat uitgaan uit die tronk en hulle wil hê niemand moet dit weet nie. Dit sal glad nie gebeur nie! Daardie Romeinse regeerders moet kom en hulle moet self vir ons uit die tronk lei.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16