Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:27-40 Bybel vir Almal (ABA)

27. Terwyl Petrus met Kornelius praat, het Petrus ingegaan in die huis. Hy sien toe daar is baie mense

28. en hy sê vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie by iemand mag wees wat nie ’n Jood is nie, ’n Jood mag ook nie vriende wees met iemand wat nie ’n Jood is nie. Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie.

29. Daarom was ek nie ongehoorsaam nie en het ek gekom toe julle gesê het dat ek hiernatoe moet kom. Sê nou asseblief vir my hoekom het julle gesê dat ek moet kom?”

30. Kornelius sê toe vir hom: “Drie dae gelede, op presies hierdie selfde tyd, drie-uur in die middag, was ek besig om te bid in my huis. Skielik het daar ’n man met blink klere voor my gestaan

31. en hy het gesê: ‘Kornelius, God het geluister na jou gebed en Hy het die goeie dinge gesien wat jy gedoen het.

32. Jy moet nou mense na die stad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Hierdie Simon Petrus woon daar by ’n ander Simon, ’n leerlooier, sy huis is by die see.’

33. Daarom het ek dadelik mense na jou toe gestuur, en jy was baie vriendelik om hiernatoe te kom. Ons almal is nou hier bymekaar waar God ons kan sien. Ons is hier om te luister na alles wat die Here vir jou gesê het om vir ons te sê.”

34. Toe het Petrus begin praat en gesê: “Ek verstaan nou waarlik dat God nie dink een persoon is belangriker as ’n ander persoon nie.

35. Nee, in elke volk hou God van die mense wat Hom respekteer en wat die dinge doen wat God wil hê.

36. Julle ken die boodskap wat God vir die Israeliete gestuur het. Jesus Christus het daardie goeie boodskap van vrede vir hulle gebring. En Hý, Jesus, is die Here van almal.

37. Julle weet van die dinge wat gebeur het in die hele Joodse land. Dit het alles in die provinsie Galilea begin toe Johannes die Doper gepreek het oor die doop waarmee hy die mense doop.

38. Julle weet dat God die Heilige Gees in Jesus van Nasaret laat kom het en dat God vir Hom krag gegee het. God was by Jesus, daarom het Jesus na baie plekke gegaan en Hy het goeie dinge gedoen: Hy het almal gesond gemaak wat baie swaar gekry het omdat die duiwel in hulle was.

39. En ons is getuies van alles wat Jesus in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het vir Jesus aan ’n houtpaal gehang en so het hulle Hom doodgemaak.

40. Maar God het vir Jesus op die derde dag weer laat lewe en God het Jesus vir ons gewys.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10