Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:11-18 Bybel vir Almal (ABA)

11. Vriende, daar is mense wat sê ek preek en sê gelowiges moet hulle laat besny, maar dit is nie waar nie. Ek het vir gelowiges gesê hulle moet hulle nie laat besny nie, dit is hoekom party mense my laat swaarkry. Want as ek vir gelowiges gesê het hulle moet hulle laat besny, dan was my boodskap oor die kruis van Christus nie vir party mense ’n probleem nie.

12. Ek wens al die mense daar by julle wat julle koppe deurmekaar maak en wat sê julle moet besny word, sny hulle eie geslagsorgane heeltemal af.

13. Vriende, God wil hê julle moet vry wees, maar julle moenie dink julle is vry en dan doen julle die slegte dinge wat mense graag doen nie. Nee, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet mekaar help.

14. Want die boodskap van al God se wette is: “Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.”

15. Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie!

16. Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie.

17. Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie.

18. En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5