Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 4:16-28 Bybel vir Almal (ABA)

16. Julle moenie dink ek is nou julle vyand omdat ek die waarheid praat nie!

17. Daardie mense by julle wil vir julle baie dinge doen, maar dit is verkeerde dinge. Hulle wil julle weghou van my, want hulle wil hê julle moet vir hulle dinge doen.

18. Julle moet onthou: Julle moet elke dag goeie dinge doen, wanneer ek by julle is, en ook wanneer ek nie by julle is nie.

19. Julle is vir my soos my kinders, julle laat my nou weer baie swaar kry, en dit sal aanhou totdat Christus die belangrikste is in julle lewens.

20. Ek wens ek was nou daar by julle. Dan kon ek op ’n ander manier met julle probeer praat, want ek weet nie wat om nou vir julle te sê nie.

21. Julle wil so graag slawe wees van die Wette van Moses, maar julle luister nie goed wat die wette sê nie.

22. In die Ou Testament is geskryf dat Abraham twee seuns gehad het. Die een seun se ma was die slavin Hagar, en die ander seun se ma was Sara, sy was nie ’n slavin nie.

23. Die slavin Hagar se seun is gebore soos al die ander kinders. Maar die seun van Sara, die vrou wat nie ’n slavin was nie, is gebore omdat God dit belowe het.

24. Die verhaal van hierdie twee vroue beteken meer. Hulle is soos twee verbonde. Die een vrou Hagar is soos die verbond wat die Here op Sinai-berg gemaak het. Hierdie verbond maak dat mense slawe van wette word.

25. Ja, Hagar is soos Sinai-berg in Arabië, en soos Jerusalem wat hier op die aarde is, want hierdie Jerusalem en al sy mense is slawe van wette.

26. Maar ons is die kinders van die Jerusalem wat in die hemel is, en daardie Jerusalem is nie ’n slaaf nie.

27. In die Ou Testament is geskryf: Jy is soos ’n vrouwat nie kinders kon kry nie,maar jy moet juigen baie bly wees,want jy wat alleen was,sal meer kinders hêas ’n getroude vrou.

28. Vriende, Isak is gebore omdat God ’n belofte gemaak het. So het julle ook kinders van God geword omdat God dit belowe het.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 4