hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 4 Bybel vir Almal (ABA)

God het sy Seun gestuur om ons vry te maak

1. Ek gaan nou ’n voorbeeld gebruik om vir julle iets te verduidelik: Wanneer iemand iets erf, en hy is nog baie jonk, dan behoort dit alles aan hom, maar hy is soos ’n slaaf.

2. Hy moet doen wat die mense vir hom sê, die mense wat sy goed moet oppas. Maar wanneer hy so oud is soos sy pa gesê het hy moet wees om te erf, dan mag hy self besluit wat om te doen met sy goed.

3. Dit was dieselfde met ons. Ons was ook eers soos mense wat baie jonk is, ons was slawe van die afgode of slawe van die Wette van Moses.

4. Maar toe God besluit het dit is die regte tyd, het Hy sy Seun gestuur. Sy Seun was ’n mens, soos ons, en Hy moes doen wat die wette sê.

5. Ons was slawe van die wette, maar God het sy Seun gestuur om ons vry te maak. So het God ons aangeneem, en ons het sy kinders geword.

6. Omdat ons God se kinders is, het God sy Seun se Gees, die Heilige Gees, in ons harte gestuur, en die Gees sê in ons harte dat God ons Vader is.

7. Daarom is ons nie meer slawe van die wette nie, ons is nou kinders van God. En omdat ons kinders van God is, sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het.

Paulus is baie bekommerd oor die gelowiges in Galasië

8. Voorheen, toe julle nog nie vir God geken het nie, het julle ander gode gedien wat nie regtig gode is nie.

9. Maar nou ken julle vir God, of, dit is beter om te sê dat God nou vir julle ken. Daarom moet julle nie nou weer teruggaan en slawe word van die Wette van Moses nie, wette wat niks beteken nie.

10. Julle probeer om al die feeste te vier wat die Jode vier, elke dag en maand en tyd wat die Jode vier. Dit is verkeerd.

11. Daarom is ek bekommerd dat al my harde werk niks gehelp het vir julle nie.

12. Vriende, ek vra baie mooi vir julle: Julle moet word soos ek, want ek het voorheen geword soos julle. Julle was toe goed vir my.

13. Julle weet ek het die eerste maal daar by julle die goeie boodskap gepreek omdat ek siek was.

14. Julle het baie swaar gekry omdat ek siek was, maar julle het my nie daaroor gehaat nie en julle was nie skaam oor my nie. Julle het my gehelp en ek was welkom by julle soos ’n engel van God, ja, soos Christus Jesus self.

15. Julle het baie gelukkig gevoel. As julle kon, dan sou julle toe julle oë uitgehaal het om dit vir my te gee. Maar nou is julle heeltemal anders!

16. Julle moenie dink ek is nou julle vyand omdat ek die waarheid praat nie!

17. Daardie mense by julle wil vir julle baie dinge doen, maar dit is verkeerde dinge. Hulle wil julle weghou van my, want hulle wil hê julle moet vir hulle dinge doen.

18. Julle moet onthou: Julle moet elke dag goeie dinge doen, wanneer ek by julle is, en ook wanneer ek nie by julle is nie.

19. Julle is vir my soos my kinders, julle laat my nou weer baie swaar kry, en dit sal aanhou totdat Christus die belangrikste is in julle lewens.

20. Ek wens ek was nou daar by julle. Dan kon ek op ’n ander manier met julle probeer praat, want ek weet nie wat om nou vir julle te sê nie.

Die voorbeeld van Hagar en Sara

21. Julle wil so graag slawe wees van die Wette van Moses, maar julle luister nie goed wat die wette sê nie.

22. In die Ou Testament is geskryf dat Abraham twee seuns gehad het. Die een seun se ma was die slavin Hagar, en die ander seun se ma was Sara, sy was nie ’n slavin nie.

23. Die slavin Hagar se seun is gebore soos al die ander kinders. Maar die seun van Sara, die vrou wat nie ’n slavin was nie, is gebore omdat God dit belowe het.

24. Die verhaal van hierdie twee vroue beteken meer. Hulle is soos twee verbonde. Die een vrou Hagar is soos die verbond wat die Here op Sinai-berg gemaak het. Hierdie verbond maak dat mense slawe van wette word.

25. Ja, Hagar is soos Sinai-berg in Arabië, en soos Jerusalem wat hier op die aarde is, want hierdie Jerusalem en al sy mense is slawe van wette.

26. Maar ons is die kinders van die Jerusalem wat in die hemel is, en daardie Jerusalem is nie ’n slaaf nie.

27. In die Ou Testament is geskryf: Jy is soos ’n vrouwat nie kinders kon kry nie,maar jy moet juigen baie bly wees,want jy wat alleen was,sal meer kinders hêas ’n getroude vrou.

28. Vriende, Isak is gebore omdat God ’n belofte gemaak het. So het julle ook kinders van God geword omdat God dit belowe het.

29. Daardie tyd het die een seun, die seun wat gebore is soos al die ander kinders, die ander seun laat swaarkry. Die ander seun is gebore nadat die Gees van God dit belowe het. Dieselfde gebeur nou daar by julle in Galasië.

30. Daarom moet julle doen wat in die Ou Testament geskryf is: Julle moet die slavinen haar seun wegjaag,want haar seun mag nie erfsaam met die ander seun nie.Die seun van die vrouwat nie ’n slavin is nie,moet alleen erf.

31. Ja, vriende, ons is nie kinders van ’n slavin nie. Ons is kinders van die vrou wat nie ’n slavin is nie.