Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 2:13-27 Bybel vir Almal (ABA)

13. want dit is God wat in julle harte werk en wat julle lus maak om die dinge te doen wat Hy graag wil hê. Ja, Hy laat julle doen wat Hy wil hê.

14. Julle moet dit alles doen, julle moenie daaroor kla en terugpraat nie.

15. Dan sal julle heeltemal reg lewe, julle sal niks verkeerd doen nie. Julle lewe nou tussen mense wat baie sleg is en wat sonde doen, maar julle moet God se kinders wees, julle moet reg lewe. Julle moet soos ligte wees wat in ’n donker wêreld skyn

16. en julle moet vas glo in die boodskap wat die ware lewe gee vir mense. Dan sal ek trots kan wees op julle op die dag wanneer Christus kom, want ek sal weet dat my harde werk met julle geslaag het.

17. Julle geloof is ’n offer wat julle gee om God te dien. As ek moet sterf, dan sal my bloed wees soos ’n drank-offer wat iemand by julle offer uitgooi, maar ek sal bly wees daaroor. Ja, ek sal bly wees saam met julle.

18. Julle moet ook bly wees, julle moet bly wees saam met my!

19. Ek wil vir Timoteus gou na julle toe stuur, en ek hoop die Here Jesus sal dink dit is reg. Ek wil hoor hoe dit met julle gaan sodat ek ook beter kan voel.

20. Ek het niemand anders wat soos Timoteus is nie. Hy sal julle graag help.

21. Al die ander mense dink net aan hulle eie dinge, hulle dink nie aan die dinge van Jesus Christus nie.

22. Maar julle weet Timoteus is ’n goeie mens. Julle weet dat hy saam met my gewerk het om die goeie boodskap te bring, hy het saam met my gewerk soos ’n seun saam met sy pa werk.

23. Ek wil vir Timoteus na julle toe stuur wanneer ek weet wat hier met my sal gebeur.

24. Ek weet die Here sal sorg dat ek ook gou na julle toe sal kom.

25. Epafroditos is my vriend en hy het regtig baie hard saam met my gewerk. Julle het hom na my toe gestuur om my met alles te help. Ek dink dit is nou belangrik dat ek vir Epafroditos terugstuur na julle toe,

26. want hy verlang na julle almal en hy is bekommerd, hy weet julle het gehoor dat hy siek was.

27. Epafroditos was regtig baie siek en hy het amper gesterf. Maar God was goed vir hom en hy het weer gesond geword. Ja, God was goed vir Epafroditos en ook vir my, want as hy gesterf het, dan sou ek nog baie swaarder gekry het.

Lees volledige hoofstuk Filippense 2