Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 13:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dit is nou die derde maal dat ek na julle toe kom. En julle weet: Twee of drie getuies is genoeg.Daarom weet julle nou dat God julle genoeg gewaarsku het om reg te lewe.

2. Ek het julle gewaarsku toe ek die tweede maal by julle was. En ek waarsku julle nou weer terwyl ek nie by julle is nie. Ek sê dit vir die mense wat daardie tyd probleme gemaak het, en ek sê dit ook vir al die ander mense wat ná daardie tyd probleme gemaak het: As ek weer na julle toe kom, dan sal ek nie vriendelik wees met die mense wat probleme maak nie.

3. Julle wil hê ek moet bewys dat Christus vir my gebruik om met julle te praat. Die bewys is: Christus het self vir julle gewys dat Hy nie swak is nie. Hy het vir julle gewys dat Hy baie krag het.

4. Ja, dit lyk miskien of Christus swak was omdat Hy gekruisig is. Maar Hy het weer begin lewe omdat Hy die krag van God gekry het. Daarom, dit lyk of ek en die ander mense wat vir Christus werk, ook swak is, maar ons lewe nou saam met Christus omdat God vir ons die krag gegee het. Julle sal dit sien wanneer ons weer by julle is.

5. Julle is die mense wat moet seker maak dat julle in Christus glo. Julle moet julleself toets. Julle weet goed dat Jesus Christus in julle harte is. Maar julle moet oppas, miskien slaag julle nie die toets nie.

6. Ek hoop dat julle sal sien dat ek en die ander mense wat saam met my werk, die toets slaag.

7. Maar ons bid tot God dat julle nie iets verkeerd sal doen nie. Want dit is vir my en die ander werkers nie belangrik om reg te wees sodat ons vir julle kan straf nie, dit is vir ons belangrik dat julle die toets moet slaag. Dit maak nie saak as ons lyk soos mense wat nie die toets slaag nie.

8. Maar julle moet weet: Ons kan nie iets doen wat teen die waarheid is nie. Ons kan net iets doen wat saam met die waarheid gaan.

9. Daarom is ons bly wanneer ons swak is en wanneer julle sterk is. Ja, ons bid dat julle heeltemal sal lewe soos God wil hê julle moet lewe.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 13