Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 4:3-14 Bybel vir Almal (ABA)

3. Hierdie mense sê mense moenie trou nie en hulle moenie party soorte kos eet nie. Maar God het al die soorte kos gemaak sodat mense die kos mag eet en vir Hom dankie kan sê daarvoor. Dit is die mense wat in Christus glo en wat weet dat die boodskap van Christus waar is.

4. Elke ding wat God gemaak het, is goed, en as mense vir God dankie sê vir die kos wat hulle van Hom kry, dan mag hulle al die soorte kos eet.

5. Al die dinge wat God gemaak het, is goed. God het dit self gesê. En as julle vir Hom dankie sê vir die kos wat van Hom kom, dan is die kos goed.

6. Jy moet aanhou om vir die gelowiges te sê hulle moet die dinge onthou wat ek nou vir jou geskryf het. Dan sal jy ’n goeie dienaar van Christus Jesus wees omdat jy aanhou om te luister na die boodskap oor die geloof wat jy geleer het. Die boodskap is waar, en jy het begin lewe soos jy geleer het.

7. Daar is mense wat niks van God weet nie, mense wat self stories maak en vertel, stories wat niks beteken nie. Jy moenie na hulle stories luister nie. Jy moet oefen om God altyd beter te dien.

8. Wanneer ’n mens jou liggaam oefen, dan help dit ’n bietjie. Maar wanneer ’n mens oefen om vir God beter te dien, dan help dit heeltemal, want God belowe om vir ’n mens die ewige lewe te gee, nou en in die tyd wat later kom.

9. Wat ek nou gesê het, is waar, en jy kan dit glo.

10. Daarom werk ons baie hard. Ons weet dat die God wat lewe, vir ons sal help, en ons weet dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Hy wil al die mense red, spesiaal die mense wat in Hom glo.

11. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê en om dit vir hulle te leer.

12. Jy is jonk, maar niemand moet dink daarom is jy nie belangrik nie. Nee, jy moet vir die gelowiges wys hoe hulle moet lewe. Jy moet dit vir hulle wys met wat jy sê en met jou mooi lewe. Jy moet wys dat jy lief is vir mense, en jy moet aanhou glo en jy moet heeltemal reg lewe.

13. Jy moet aanhou om vir die gemeente te lees uit die Bybel. Jy moet aanhou om vir hulle te sê hoe hulle moet lewe en jy moet aanhou om vir hulle te leer. Jy moet dit doen totdat ek kom.

14. Jy moet aanhou om die genadegawe te gebruik wat jy gekry het. Die Here het hierdie genadegawe vir jou gegee. Die profete het dit gesê, en die ouderlinge het hulle hande op jou gesit.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 4