Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1:1-6 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek, Paulus, is ’n apostel van Christus Jesus. God en Christus Jesus het vir my gesê dat ek ’n apostel van Christus Jesus moet wees, God wat vir ons gered het en Christus Jesus wat sal doen wat Hy belowe het.

2. Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir jou, Timoteus. Jy is vir my soos my eie kind, want ek het jou gehelp om in Christus te glo. Ek bid dat God die Vader en Christus Jesus ons Here genadig sal wees vir jou en dat Hy goed sal wees vir jou wanneer jy swaarkry. Ek bid ook dat Hy vir jou vrede sal gee.

3. Voordat ek na die provinsie Masedonië gegaan het, het ek vir jou mooi gevra om in Efese te bly. Nou vra ek weer vir jou mooi om daar te bly sodat jy vir party mense kan sê hulle moet ophou om verkeerde dinge vir die mense te leer.

4. Hulle moet ook ophou om te luister na al die stories wat nie waar is nie en hulle moet ook nie dink dat baie name van voorouers belangrik is nie. Hierdie dinge laat mense stry met mekaar, hierdie dinge help hulle nie om te glo dat God ’n plan het om die mense te red wat in Christus glo nie.

5. Ek sê dit vir julle omdat gelowiges lief moet wees vir mekaar en vir God. Gelowiges moet mense wees wat net vir God dien, hulle moet goed weet wat is reg en wat is verkeerd, en hulle moet waarlik in Christus glo.

6. Party mense het opgehou om dit te doen en nou hou hulle aan om dinge te praat wat niks beteken nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 1