Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:34-40 Bybel vir Almal (ABA)

34. ’n Getroude man kan nie net aan die Here dink nie, want hy moet ook dink aan sy vrou. Dit is dieselfde vir ’n vrou. As ’n vrou nie meer getroud is nie, of as sy nog nooit getrou het nie, dan kan sy besig wees met die dinge van die Here. Sy wil haar hele lewe aan die Here wy. Maar as ’n vrou getroud is, dan is sy besig met die dinge van die wêreld. Sy probeer dinge doen waarvan haar man hou.

35. Ek sê dit omdat ek probeer om julle te help. Ek wil nie hê dat die lewe vir julle moeilik moet wees nie. Nee, ek wil hê julle moet reg lewe en julle moet julleself heeltemal wy aan die Here, julle moenie dat iets of iemand julle laat dink aan ander dinge nie.

36. As ’n jongman verloof is en hy dink hy doen nie reg aan sy verloofde nie, en hy wil baie graag by haar slaap, dan moet hy met haar trou. Hy doen nie sonde as hy met haar trou nie. Hy en sy verloofde moet trou.

37. As ’n jongman verloof is, maar hy besluit dat hy nie by sy verloofde wil slaap nie, en hy glo vas hy moenie met haar trou nie, dan doen hy reg as hy nie met haar trou nie. Maar niemand moet vir hom sê hy mag nie met haar trou nie.

38. Dit beteken dat as ’n jongman met sy verloofde trou, dan is dit goed. Maar as die jongman nie trou nie, dan is dit beter.

39. As ’n vrou met haar man getroud is, dan mag sy hom nie los nie. Maar as die man sterf, dan kan sy weer met enige iemand trou, maar dit moet iemand wees wat ook in die Here Jesus glo.

40. Maar ek dink so ’n weduwee is gelukkiger as sy nie weer trou nie. En ek dink dat die Gees van God my ook lei om vir julle te sê wat julle moet doen.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7