Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:31-38 Bybel vir Almal (ABA)

31. En die mense wat baie besig is in die wêreld, moet wees soos mense wat dink die wêreld is nie belangrik nie. Want die wêreld soos dit nou is, sal verdwyn.

32. Ek wil graag hê julle moenie bekommerd wees oor dinge nie. As ’n man nie getroud is nie, dan het hy tyd om besig te wees met die dinge van die Here. Hy probeer dinge doen waarvan die Here hou.

33. Maar as ’n man getroud is, dan is hy besig met die dinge van die wêreld. Hy probeer dinge doen waarvan sy vrou hou.

34. ’n Getroude man kan nie net aan die Here dink nie, want hy moet ook dink aan sy vrou. Dit is dieselfde vir ’n vrou. As ’n vrou nie meer getroud is nie, of as sy nog nooit getrou het nie, dan kan sy besig wees met die dinge van die Here. Sy wil haar hele lewe aan die Here wy. Maar as ’n vrou getroud is, dan is sy besig met die dinge van die wêreld. Sy probeer dinge doen waarvan haar man hou.

35. Ek sê dit omdat ek probeer om julle te help. Ek wil nie hê dat die lewe vir julle moeilik moet wees nie. Nee, ek wil hê julle moet reg lewe en julle moet julleself heeltemal wy aan die Here, julle moenie dat iets of iemand julle laat dink aan ander dinge nie.

36. As ’n jongman verloof is en hy dink hy doen nie reg aan sy verloofde nie, en hy wil baie graag by haar slaap, dan moet hy met haar trou. Hy doen nie sonde as hy met haar trou nie. Hy en sy verloofde moet trou.

37. As ’n jongman verloof is, maar hy besluit dat hy nie by sy verloofde wil slaap nie, en hy glo vas hy moenie met haar trou nie, dan doen hy reg as hy nie met haar trou nie. Maar niemand moet vir hom sê hy mag nie met haar trou nie.

38. Dit beteken dat as ’n jongman met sy verloofde trou, dan is dit goed. Maar as die jongman nie trou nie, dan is dit beter.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7