Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 6:4-13 Bybel vir Almal (ABA)

4. Julle wat in die gemeente is, respekteer nie die regters van die wêreld nie! Hoekom vra julle dan dat húlle moet besluit oor julle gewone probleme?

5. Ek sê dit sodat julle skaam moet word. Ek is seker daar is party van julle wat verstandig is en wat kan sê hoe gelowiges hulle probleme kan regmaak.

6. Maar nou vat die een gelowige ’n ander gelowige na die hof, en julle vra vir regters om julle te help, regters wat nie gelowiges is nie.

7. Julle het al klaar julle naam sleg gemaak omdat julle probleme het en mekaar daaroor na die hof vat. Hoekom is julle nie geduldig wanneer iemand verkeerde dinge aan julle doen of julle kul en julle goed vat nie?

8. Maar nou is júlle die mense wat verkeerde dinge doen aan ander mense, dit is júlle wat vir hulle kul en hulle goed vat. En julle doen dit aan gelowiges! Ek is geskok.

9-10. Julle weet dat mense wat verkeerd lewe, nie sal kom waar God Koning is nie. Julle moet reg verstaan: Mense wat onsedelik lewe, sal nie kom waar God Koning is nie, ook nie mense wat afgode aanbid, of mans wat met ander mans se vroue seks het, of mans wat met ander mans seks het, of mense wat steel, of mense wat altyd meer en meer geld en goed wil hê, of mense wat altyd dronk is, of mense wat lieg en lelike dinge van ander mense sê, of mense wat ander mense aanval en hulle geld vat nie.

11. Ja, party van julle het hierdie dinge gedoen. Maar nou het God julle sondes afgewas, Hy het julle aan Hom gewy. Hy het julle vrygespreek omdat julle aan die Here Jesus Christus behoort en omdat die Gees van ons God in julle harte gewerk het.

12. Ek weet julle sê ’n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir ’n mens nie. Julle sê ’n mens mag alles doen, maar ek sê jy mag nie iets so belangrik laat word dat dit oor jou regeer nie.

13. Julle sê ook kos moet na ’n mens se maag gaan, en die maag moet kos kry. Maar julle moet onthou: Die kos en ’n mens se maag behoort altwee aan God. God sal dit vir ons wys wanneer Hy eendag kom en besluit dat die maag en kos nie meer nodig is nie. Dit is dieselfde met ’n mens se liggaam: Die Here het ons liggame gemaak, nie om onsedelik te lewe nie, maar om Hom te dien. Ons liggame behoort aan die Here.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 6