Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 1:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.”

12. Toe sê die engel wat vir my die gesig moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!”

13. Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig.

14. Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.

15. My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so 'n groot ramp laat word het.

16. Daarom, so sê die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word.

17. “Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.”

18. Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was vier horings,

19. en ek het vir die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit?”Hy het vir my gesê: “Dit is die horings wat vir Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”

20. Toe laat die Here my vier ambagsmanne sien,

21. en ek vra: “Wat het hulle kom doen?”Hy het geantwoord: “Daardie horings het die mense van Juda verstrooi en verneder. Die ambagsmanne het gekom om die regeerders van die nasies, die horings wat vir Juda met soveel geweld verstrooi het, die skrik op die lyf te ja en hulle tot 'n val te bring.”

Lees volledige hoofstuk Sagaria 1