hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 4 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die lossingsprosedure. Huwelik. Die geboorte van Obed

1. Ondertussen het Boas na die stadspoort toe gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie Boas gepraat het, daar verby. Boas roep toe: “Kom sit hier, my vriend.”Nadat hy kom sit het, het Boas

2. ook tien leiers van die stad gevra om daar te kom sit, en hulle het dit gedoen.

3. Boas sê toe vir die losser: “Naomi, die vrou wat uit Moab teruggekom het, bied die stuk grond wat aan ons familielid Elimelek behoort het, te koop aan.

4. Ek het gedink ek behoort dit vir jou te sê. Koop dit nou in die teenwoordigheid van almal wat hier sit en voor die leiers van die volk; indien jy bereid is om as losser op te tree, doen dit dan, maar indien nie, sê dit vir my dat ek dit weet, want ek is ná jou die volgende een wat die lossersreg moet uitoefen.”Hy antwoord toe: “Ek is bereid om as losser op te tree.”

5. Daarop sê Boas: “Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd vir Rut die Moabitiese weduwee sodat die grond in die oorledene se familie bly.”

6. Die losser sê toe: “In daardie geval sal ek my reg om as losser op te tree, laat vaar, want anders sou dit beteken dat my eie eiendom in gevaar kom. Tree jy nou maar as losser op, want ek sien nie meer daarvoor kans nie.”

7. In Israel was dit gebruiklik by die lossingsprosedure of by die ruil van enige eiendom dat die een party 'n skoen uittrek en aan die ander party gee. Dit was die manier waarop die bekragtiging van 'n transaksie in Israel plaasgevind het.

8. Die losser sê toe vir Boas: “Jy kan dit maar koop,” en die losser het sy skoen uitgetrek.

9. Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat

10. ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.”

11. Die leiers en almal wat in die stadspoort bymekaar was, het toe bevestig: “Ons is getuies. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel. Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem.

12. Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.”

13. Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het 'n seuntjie in die wêreld gebring.

14. Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou 'n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel,

15. en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

16. Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.

17. Haar buurvroue het die seuntjie toe 'n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore.”Obed was die voorvader van Dawid.

Die geslagsregister van Peres tot by Dawid

18. Hier is nou die geslagsregister van Peres: Peres was die vader van Gesron,

19. Gesron van Ram, Ram van Amminadab,

20. Amminadab van Nagson, Nagson van Salmon,

21. Salmon van Boas, Boas van Obed,

22. Obed van Isai, en Isai was die vader van Dawid.