Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 2:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as 'n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen.

11. Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was,

12. is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie.

13. Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was.

14. Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie,

15. en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe.

16. Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie.

17. Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.”

18. Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.

19. Maar toe Sanballat die Goroniet, Tobija die Ammonitiese amptenaar en Gesem die Arabier hoor wat ons doen, het hulle ons uitgelag en smalend gevra: “Wat vir 'n ding is dit waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 2