Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:21-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het.

22. Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit.

23. Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.

24. Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi.

25. Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit.

26. Hy het 'n ongesuurde ringbrood, 'n ringbrood wat met olie geknie is, en 'n roosterkoek uitgehaal uit die mandjie met ongesuurde brood wat by die altaar gestaan het, en dit by die vet en die regterboud gesit.

27. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit as 'n beweegoffer vir die Here aan te bied.

28. Moses het dit toe by hulle geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Die offer waarmee die priesters gewy is, was 'n offer wat deur die Here aanvaar is. Dit was 'n vuuroffer wat vir die Here aangebied is.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8