Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:28-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. sal Ek julle in woede teenstaan. Ek sal julle nóg swaarder straf oor julle sondes:

29. julle sal die vleis van julle eie kinders moet eet!

30. Ek sal julle hoogtes verwoes en julle wierookaltaartjies vernietig. Ek sal so 'n afsku van julle hê dat Ek julle lyke bo-op julle lewelose afgodsbeelde sal gooi.

31. Ek sal puinhope maak van julle stede, Ek sal julle heiligdomme verwoes, Ek sal geen offer van julle aanvaar nie.

32. Ek sal die land só verniel dat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.

33. Vir júlle sal Ek met die swaard uitmekaar laat jaag en julle onder die heidennasies verstrooi. Julle land sal verlate wees en julle stede puinhope.

34. Wanneer die land dan verlate lê en julle in julle vyande se gebied is, sal die grond uiteindelik sy verdiende rusjare kry. Dan sal die land rus en die verlore sabbatsjare inhaal.

35. So lank as die land verlate is, sal dit die rus kry wat dit om die sewe jaar moes gehad het maar nooit gekry het toe julle dit bewoon het nie.

36. Dié van julle wat oorbly, sal Ek in die lande van hulle vyande in so 'n spanning laat leef dat die geritsel van 'n droë blaar hulle op die loop sal jaag. Hulle sal hardloop tot hulle neerslaan, asof iemand met 'n swaard agter hulle aan is, maar daar sal niemand wees nie!

37. Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie.“Julle sal geen krag hê om weerstand te bied teen julle vyande nie!

38. Julle sal tussen die heidennasies omkom, in die land van julle vyande sal julle sterf.

39. “Dié van julle wat daarna nog oor is, sal in die lande van julle vyande wegkwyn onder die selfverwyt oor hulle sonde. Hulle sal ook wegkwyn onder die wroeging oor die sondes van hulle voorvaders.

40. Hulle sal húlle sonde en dié wat hulle voorvaders teen My begaan het, bely. Hulle sal erken dat hulle My teengestaan het,

41. dat Ek hulle ook teengestaan het en hulle na hulle vyande se land toe gevat het om te sien of hulle dan oor hulle ongehoorsaamheid berou sal kry en hulle skuld sal erken.

42. Wanneer hulle dit doen, sal Ek die beloftes wat Ek aan Jakob, aan Isak en aan Abraham gegee het, weer van krag maak. Ek sal my beloftes oor die land weer van krag maak.

43. Maar die land sal eers sonder sy mense verlate moet lê om die verlore rusjare in te haal. Húlle sal hulle skuld moet erken, dat hulle my bepalings verwerp het en my voorskrifte met minagting behandel het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26