Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:23-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. “As dit julle nie tot ander insigte bring nie en julle My nog bly teenstaan,

24. sal Ek júlle ook teenstaan. Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes:

25. Ek sal 'n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. As julle veiligheid soek in julle stede, sal Ek pes onder julle loslaat sodat julle sal móét oorgee.

26. Ek sal julle meel so min laat word dat tien vrouens saam net genoeg sal hê vir een baksel. Die stukkie wat vir elkeen afgeweeg word, sal nie julle honger kan stil nie.

27. “As julle hierna nóg nie na My luister nie en My nog steeds teenstaan,

28. sal Ek julle in woede teenstaan. Ek sal julle nóg swaarder straf oor julle sondes:

29. julle sal die vleis van julle eie kinders moet eet!

30. Ek sal julle hoogtes verwoes en julle wierookaltaartjies vernietig. Ek sal so 'n afsku van julle hê dat Ek julle lyke bo-op julle lewelose afgodsbeelde sal gooi.

31. Ek sal puinhope maak van julle stede, Ek sal julle heiligdomme verwoes, Ek sal geen offer van julle aanvaar nie.

32. Ek sal die land só verniel dat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.

33. Vir júlle sal Ek met die swaard uitmekaar laat jaag en julle onder die heidennasies verstrooi. Julle land sal verlate wees en julle stede puinhope.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26