Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:28-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. As hy egter nie genoeg geld bymekaarkry om die grond terug te koop nie, bly die koper in beheer daarvan tot die volgende hersteljaar. In die hersteljaar moet hy die grond ontruim en die oorspronklike eienaar moet dan weer sy grond in besit neem.

29. “Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy 'n volle jaar lank die reg behou om dit terug te koop.

30. As hy nie binne een jaar van hierdie reg gebruik maak nie, verval sy aanspraak op die betrokke huis en word dit die wettige eiendom van die koper en sy erfgename. 'n Woonhuis in 'n ommuurde stad val dus nie terug in die hersteljaar nie.

31. Woonhuise in dorpe wat nie mure om het nie, geld as deel van die platteland: die oorspronklike eienaar het die reg om dit enige tyd terug te koop, en in die hersteljaar val dit terug na hom.

32. In die Levietestede het die Leviete die onvervreembare reg om woonhuise waarvan hulle die oorspronklike eienaars was, terug te koop.

33. Wanneer 'n Leviet 'n huis wat hy in 'n Levietestad gekoop het, terugverkoop aan die oorspronklike eienaar wat nie 'n Leviet is nie, moet die huis in die hersteljaar terugval na die Leviet, want die huise in die Levietestede moet in Israel die eiendom van die Leviete wees.

34. Die weiveld om die Levietestede mag nooit verkoop word nie, want die Leviete het 'n onvervreembare reg daarop.

35. “Wanneer 'n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy 'n vreemdeling of 'n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou.

36. Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou.

37. As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees.

38. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.

39. “Wanneer 'n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie.

40. Jy moet hom soos 'n dagloner of soos 'n bywoner behandel. Hy moet tot die hersteljaar in jou diens bly.

41. Dan moet hy en sy afhanklikes as vry mense teruggaan na hulle familie en hulle familiegrond toe.

42. Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie.

43. Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so 'n mede-Israeliet hard behandel nie.

44. Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop.

45. Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25