Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die Here het verder vir Moses gesê:

10. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem.

11. Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen.

12. Wanneer julle die are as beweegoffer aanbied, moet julle ook 'n jaaroud lam sonder liggaamsgebrek as brandoffer aan die Here bring,

13. sowel as 'n graanoffer van drie kilogram meel aangemaak met olyfolie. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Daarby moet een liter wyn as drankoffer gebring word.

14. Voor hierdie dag waarop julle die offer aan julle God bring, mag julle nog niks van die nuwe graan gebruik nie, nie gebak of gebraai of rou nie. Dit moet 'n vaste instelling vir julle hele nageslag wees, waar julle ook al woon.

15. “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.

16. Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here 'n graanoffer bring uit die pas geoeste graan.

17. Elke gesin moet twee brode vir 'n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is 'n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes.

18. Behalwe al die brode moet daar ook sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek, 'n jong bul en twee ramme gebring word. Hulle moet as brandoffers aan die Here gebring word met die graanoffer en die drankoffers wat daarby behoort. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word.

19. Julle moet ook 'n bokram as sondeoffer bring en twee jaaroud lammers as maaltydoffer.

20. Die priester moet die twee lammers saam met die brode uit die eerste opbrengs van die oes as beweegoffer vir die Here aanbied. Dit is 'n gewyde gawe aan die Here en dit kom die priesters toe.

21. Op hierdie dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Dit moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23