Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Van die gemeente Israel moet hy twee bokramme as sondeoffer kry en een skaapram as brandoffer.

6. Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters.

7. Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here.

8. Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’.

9. Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as 'n sondeoffer offer.

10. Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel.

11. “Wanneer Aäron die sondeofferbul offer wat vir homself bedoel is en waarmee hy vir hom en al die priesters versoening doen, moet hy die bul slag

12. en moet hy 'n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Aäron moet ook 'n dubbele handvol fyngestampte wierook vat en daarmee agter die voorhangsel ingaan.

13. Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy dan die wierook op die kole gooi sodat dit 'n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek waarin die getuienis is. Dan sal hy nie sterf nie.

14. Hy moet daarna van die bloed van die bul met sy vinger sprinkel op die deksel se voorkant en dan ook nog sewe maal op die grond voor die deksel.

15. Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel.

16. So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid.

17. Niemand anders mag in die tent van ontmoeting wees vandat Aäron ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitgaan nie: hy doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente Israel.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16